Die direkteur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Sentrum vir Omgewingsbestuur, prof. Paul Oberholster, is aangestel om van 1 Januarie 2024 af as die dekaan vir die fakulteit natuur- en landbouwetenskap te dien.
Die fakulteit se visie is om aan die spits van die praktyk van dié wetenskappe te staan.
Oberholster het sy voorgraadse en nagraadse studie aan die UV voltooi en ’n doktorsgraad in waterhulpbronbestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal.
Hy het sy loopbaan in 2007 begin as senior wetenskaplike by die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (CSIR), waar hy verskeie posisies beklee het. In sy tyd by die CSIR het hy ook akademiese posisies by verskeie universiteite beklee.
Hy is sedert 2019 aangestel as direkteur vir die Sentrum vir Omgewingsbestuur. In dié pos het hy ’n eerbewys van die Nasionale Stigting vir Wetenskap en Tegnologie ontvang, in die afdeling vir waternavorsing.
Oberholster volg prof. Danie Vermeulen op wat in Desember as die dekaan van die fakulteit aftree.