Die Maselspoort-pompstasie, wat volgens Rossouw Botes net die helfte van die kapasiteit water lewer as waartoe dit in staat is.Foto: Verskaf


Sedert die nasionale administrasiespan in April by die Mangaung-metro ingegryp het, gaan dinge nou selfs nóg slegter.

Só het DA-raadslid Hardie Viviers Maandag (17/10) in ’n nuusverklaring gesê.

“Die metro se administrasie het tot stilstand gekom.

“Inwoners oral ondervind diens­leweringsprobleme, watertekort en probleme met onderhoud van infrastruktuur. Daar is geen vullis­verwydering nie en daar heers wetteloosheid.”

Sy verklaring volg kort op ’n antwoord wat DA-raadslid Rossouw Botes van die Vrystaatse Premier, Sisi Ntombela, se kantoor ontvang het om te sê dat die metro se water­krisis volgens die provinsiale regering as opgelos beskou word.

Botes het verlede jaar die DA se kommer oor die tekort aan betroubare watervoorsiening die afgelope 16 jaar onder die aandag van die kantoor van die Presidensie gebring.

“Ek het reeds op 29 November verlede jaar navrae deurgestuur aan die kantoor van pres. Cyril Ramaphosa waarna ek in Desember weer opgevolg het,” verduidelik hy.

Cilliers Brink, DA-parlementslid, het terugvoering gegee dat die kantoor van die premier laat weet het dat die probleme met watervoorsiening wat op die presidensiële aanmeldlyn aangeteken is, opgelos is.

“Hoe kan dit opgelos wees as ons voortdurend probleme met watervoorsiening het?”

Botes verduidelik dat die metro nie genoeg water kan suiwer vir gebruik in die stad en omliggende dorpe nie.

“Boonop vererger beurtkrag die toevoer van water na sommige dele van die metro.”

Hy sê talle dorpe in die metro sit gereeld sonder water. Dit het selfs daartoe gelei dat die Hoërskool Christiaan de Wet in Dewetsdorp die einde van die derde kwartaal vroeg moes sluit.

Botes sê die Maselspoort-aanleg wat water aan die noorde van die stad lewer, lewer net sowat 40 tot 50 megaliter per dag, terwyl dit ontwerp is om tussen 90 en 100 megaliter per dag te lewer.

Botes sê hy het probeer om Bloemfontein se waterprobleme by die hoogste gesag aan te meld, maar niemand luister nie.

“Die waterkrisis wat nou in Johannesburg heers, is ’n duidelike waarskuwing wat kan gebeur as dinge nie verbeter nie.”

Die DA het in September ’n memorandum aan die kantoor van die premier oorhandig met ’n lys van die probleme met watervoorsiening en moontlike oplossings.

You need to be Logged In to leave a comment.