Familie hou aan skitter

Op die afgelope Suid-Afrikaanse pluimbalkampioenskaps­byeenkoms, wat van 16 tot 21 Junie in Kaapstad aangebied is, het die bekende Dednam-broers as afrigters teen mekaar meegeding – met goeie uitslae.


Op die afgelope Suid-Afrikaanse pluimbalkampioenskaps­byeenkoms, wat van 16 tot 21 Junie in Kaapstad aangebied is, het die bekende Dednam-broers as afrigters teen mekaar meegeding – met goeie uitslae.

Terwyl die Dednam-kinders in die o.13-, o.11- en o.9-kampioenskap kragte gemeet het, het die Vrystaatse Olimpiese broers Chris en Roelof Dednam teenoor mekaar gesit en afgerig. Hulle hou die rekord vir die meeste Suid-Afrikaanse dubbelspeltitels, verskeie internasionale en Afrika-titels en ook die prestasie om in 2008 by die Beijing Olimpiese Spele in die dubbelspel te kon speel.

Hoewel albei nog speel, het hulle in die toernooi daarop gefokus om hul kinders af te rig – en die lot het bepaal dat hulle in die eindstryd van die o.11-kampioen­skap se gemengde dubbelspel aan verskillende kante van die baan afgerig het.

Chris se seun, Charltin, het opslae in die o.11-kampioenskap gemaak deur die enkelspel teen ’n speler van Namibië, asook die dubbelspel saam met sy neef, Shaun (Roelof se seun), teen spelers van Namibië te wen. Hy het ook in die gemengde dubbelspel saam met ’n speler van Gauteng gewen.

Charltin is boonop in die o.13-kampioenskap ingeskryf, en hoewel dit ’n speler se uithouvermoë toets om in twee ouderdomsgroepe in dieselfde week mee te ding, het hy gewys hy kan nog baie titels wen.

Hy het die seuns o.13-enkelspeltitel gewen deur ’n speler van die Westelike Provinsie (WP) op dié speler se tuisbaan gemaklik in die eindstryd te klop. Hy het ook in die o.13-afdeling in die gemengde dubbelspel gespeel, maar moes met silwer tevrede wees. Dit was die laaste wedstryd van die hele toernooi.

Shaun het op sy beurt, benewens die o.11-dubbelspeltitel, ’n silwermedalje in die o.11- gemengde dubbelspel verwerf.

Shaun se sussie, Marlie, wat in die o.9-afdeling meeding, het nie op haar laat wag nie. Sy het in die enkelspel vir o.9-meisies ’n silwermedalje gekry en toe in die o.9-meisiesdubbelspel saam met Danel Wise gewen teen ’n kombinasie van die WP en Gauteng.

Marlie het dit toe afgerond met ’n silwer in die o.9- gemengde enkelspel, saam met haar WP-maat.

Sy het ook in die o.11-afdeling gewys sy kan teen die ouer kinders meeding toe sy saam met haar Kimberley-maat in die o.11-dubbelspel silwer verower het.

Danel, wat saam met Marlie die dubbelspel gewen het, het gewys dit is nie net die Dednam-familie wat presteer nie; dít was nog meer duidelik toe haar sussie, Wilmien, tot in die eindstryd van die o.11-meisiesenkelspel gevorder en ’n silwermedalje verwerf het.

Met lede van die Wise-familie wat hulle ook uitstekend van hul taak kwyt, en Charltin se ouer broer, Aiden, wat een van die beste o.15-spelers in die land is, kan na regte gesê word pluimbal is ’n familiesportsoort – en as die gogga eers een familielid gebyt het, val die ander ook vinnig in.

You need to be Logged In to leave a comment.