Lede van die Dednam-familie van Bloemfontein het vandeesweek geskiedenis op die pluimbalbaan in Alberton gemaak, waar ’n drietal Dednams die Vrystaat se span tydens die nasionale o.13-pluimbaltoernooi verteenwoordig.
Aiden (11) en Charltin (9), Chris Dednam se seuns, en Shaun (9), Roelof Dednam se seun, is die vierde geslag oor 50 jaar heen van die Dednam-familie wat hul provinsies op 5 Julie in die nasionale pluimbalkampioenskap verteenwoordig het.
Grootoupa Chris Dednam het in die 1960s die Grens, Natal en Noord-Natal verteenwoordig, waarna hy in 1971 die Verre-Noord-Transvaal se kampioen vir ’n aantal jare was voor sy uittrede.
Hy was in sy jonger dae ook ’n kranige bokser, en rugby- en tennisspeler. Op 91 jaar, is hy nou tuis langs die KwaZulu-Natalse suidkus.
Oupa Martin is in 1972 in die Suid-Afrikaanse Universiteitespan en in 1978 in die Suid-Afrikaanse leër- en weermagspanne ingesluit. Hy het ook die Vrystaatpluimbalspan meer as ’n dekade lank verteenwoordig, ’n hele paar jaar ook saam met ouma Engela.
Sedert die jare 1990’s was hulle saam ook gereeld lede van die Vrystaat se veterane- en meesterspanne.
Martin het egter op afrigting begin fokus om hul twee seuns Chris en Roelof, en talle ander Vrystaat-jongelinge, se pluimbal te verbeter.
Martin het tot ’n nasionale afrigter (vlak 4) gevorder.
Die afgelope twee weke het hy die o.13-span vir die nasionale toernooi voorberei.
Die pa’s, Chris en Roelof, was nie net provinsiale verteenwoordigers vir die Vrystaat nie, maar het sedert 1995 die nasionale o.15-, o.17- en o.19-toernooie oorheers, voordat hulle die nasionale seniorspan begin verteenwoordig het.
Hulle was Afrika-kampioene, en het hul land op Olimpiese Speles verteenwoordig: Chris in Athene in 2004 in die enkel- en gemengde dubbelspel; Chris en Roelof in Beijing 2008 in die mansdubbelspel.
Hulle hou die rekord van 13 nasionale mansdubbelspeltitels, en Chris ook 26 nasionale titels (enkels, dubbelspel en gemengde dubbelspel).
Later vanjaar verteenwoordig hulle weer die Vrystaat in die Melvillebeker-tussenprovinsialetoernooi, waar Elaine, Roelof se eggenote en gemengde dubbelspelmaat, ook weer die span gehaal het.
Die toernooi duur nog vandeesweek met die spankompetisie wat tot Woensdag geduur het en die individuele kampioenskappe wat tot Vrydag (14/07) duur. Aiden is reeds op die nasionale o.15-ranglys, en baie word van die drie jong Dednams in die toekoms verwag.