’n Hele paar ywerige jongmense van Bloemfontein gaan hul storie-enjins uitstal op vanjaar se Bloem-Familietrekkerfees, waar oud en jonk alles wat raas en stoom gaan waardeer.
Jannie Ferreira, eienaar van die Ferreira-trekkermuseum en een van die organiseerders van die fees wat op Saterdag 26 Oktober aangebied word, sê dit is so lekker as mense op die fees kom en in vervoering raak oor goed wat hulle in hul kinderdae laas gesien het.
“Dit is soos ’n ou boek wat weer oopgemaak word, met baie stories in.”
Die Sentraal-Vrystaat-veteraneklub het vroeër vanjaar ’n spesiale geleentheid genaamd My Storie-enjin by die Ferreira-trekkermuseum aangebied. Op dié geleentheid in Junie kon jongmense die stories van die enjins wat hulle opgeknap het, vertel. Dit was nie ’n kompetisie soos in die verlede nie, maar ’n geleentheid vir jongmense en leerlinge om te leer hoe om ’n enjin op te bou en aan die werk te kry – en daardie stories te vertel.
Wyle Dirk kok, redakteur van Volksblad en verslaggewer wat jare lank oor die veteraneklub se bedrywighede berig het, het kort voor sy dood met baie van dié jongmense op die My Storie-enjin-dag gesels.
Een van die leerlinge wat op My Storie-enjin uitgestal het en die storie van die Wolseley-enjin uit die jare 1940 vertel het, was Leia Greeff, ’n gr. 8-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje.
Met die hulp van haar oupa, Hennie Greeff, het sy dié enjin wat jare lank in ’n pakkamer van Hansie Janse van Rensburg by Trompsburg gestaan het, gaan haal en dit opgeknap.
Sy het van 8 tot 10 Augustus met haar Wolseley aan die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs (Savtek) se nasionale skou in Villiersdorp deelgeneem, waar sy as die wenner in haar afdeling aangewys is.
My Storie-enjins word op die fees einde Oktober uitgestal, en dit is net ’n deel van dié geleentheid.
Jaco Wentzel, nog een van die organiseerders van die fees, sê die Bloem-Familietrekkerfees is ’n heerlike bymekaarkom-geleentheid.
Feesgangers kan weer uitsien na die trekkerparades op die terrein, demonstrasies deur ’n ystersmid en ’n groot verskeidenheid stoomenjins en antieke enjins – selfs ’n vliegtuigenjin.
Wentzel sê een van die hoogtepunte is die Kabouterbraai, waar die jongklomp hul slag langs die vleisbraaivuur gaan wys.
Heelwat praktiese demonstrasies sal aangebied word, soos hoe mielies gedors en meel gemaal word, hoe skape geskeer word en hoe botter gemaak word.
Almal word genooi om deel te neem aan boeresport, en die sterk manne kan toutrek teen ’n trekker.
Daniel Wesley gaan tussendeur musiek maak.
Die hekke by die Bloem-Familietrekkerfees in Speserylaan, Quaggafontein, open om 08:00 en die fees duur tot 16:00. Toegang kos R40, en kinders betaal R10.
Rig navrae aan Rudie Herbst by 082-815-1727 of Wentzel by 079-892-1265.