Die naweek gaan daar heerlik gekuier word op die Monte Bello-wynfees. Hier klink Maryke Lessing en Annerie Prinsloo van Monte Bello klink ’n glasie.Foto: Lientjie Mentz


’n Dag van kuier, proe en heerlike gees wag by die Monte Bello-fees wat op Saterdag 7 September buite Bloemfontein aangebied word. Nie net gaan dié daglange fees die geleentheid bied om saam te kuier om heerlike kos en ’n keur van die lekkerste wyn, brandewyn en jenewer nie, maar gaan die sangers Steve Hofmeyr en Ryk Kleinhans ook optree.

Die hekke open om 12:00, en gaste sal kan proe aan allerlei drankies soos Vuilhond-brandewyn, Dirty Dog-jenewer, Dirty Monkey-rum en -likeur, Gelston se whiskey, Sombrero-tequila en KWV-brandewyn. Van die land se voorste wynplase, soos Jakkalsvlei, Alvi’s Drift en Hermanuspietersfontein, sal verteenwoordig word.

Kosstalletjies bied die geleentheid om te kies uit heerlike peuselkos: van soetgoed en Mooivlakte se haloumi, tot Monte Bello se sappige skaap-op-die-spit en roosterkoekbraaibroodjies. Daar gaan ook ’n stalletjie met biltong en droëwors wees.

Benewens die verskeidenheid eetgoed sal allerlei produkte vanuit 15 stalletjies te koop wees. Dit sluit in Liedjiesbos se olywe, badprodukte en olyfolies; Aggetoggie en Lyla-Lyfies se babaklere en klere vir premature babas; mooi klere van #WANT; en vir die manne Wilder Clothing se rugbytruie.

Spesiaal vir kinders is daar ’n speelruimte en stalletjies wat bederfgoedjies vir hulle verkoop, soos Elize Sweeties, Tropical Fruit Ice en Towerbos. Die kinders kan ook op springkastele baljaar en aan spookasem en ander lekkernye smul.

Gaste kry ook die geleentheid om hulself met ’n vinnige spa-behandeling en ’n glasie vonkelwyn te trakteer.

Boonop word die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland uitgesaai.

Kaartjies kos R300 en is op computicket.com beskikbaar en sal ook Saterdag by die toegangshek te koop wees. Die toegangsprys sluit die vertoning van Steve Hofmeyr om 19:30, sowel as ’n optrede deur Ryk Kleinhans om 15:30 op die verhoog, in.

Elke gas kry ’n proe-glasie en kan hiermee ’n verskeidenheid wyn en ander drankies proe.

Die kos op die fees word nie deur die kaartjieprys gedek nie, en betaling kan slegs met bankkaarte gedoen word, en nie met kontant nie.

BloemNuus is die gedruktemediaborg vir die Monte Bello-fees.

  • Die twee wenners wat elk dubbelkaartjies vir die fees gewen het, is Chanté van der Bank en Jo-annette Lusardi. Die wenners moet hul kaartjies voor vandag (Donderdag) om 17:00 by Bloemnuus se kantoor afhaal.

You need to be Logged In to leave a comment.