Fees beloof hope gees

Daar is heelwat om na uit te sien wanneer die Vrystaat Kunstefees dié wintervakansie aangebied word.


Daar is heelwat om na uit te sien wanneer die Vrystaat Kunstefees dié wintervakansie aangebied word.

Michael Garbett, feesdirekteur, sê vanjaar se fees van 11 tot 15 Julie is vol verrassings, met van die voorste produksies in die land wat te sien sal wees.

Teaterproduksies waarna feesgangers kan uitsien, sluit in ’n Akkerboommet De Klerk Oeloefse; Die fel omstrede kroon, Edward II en Gaveston met Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, André Roothman en Marthinus Basson as regisseur; Die rok van Marie Antoinette met Jana du Plessis; en Magada Louwmet Desiré Gardner en Hannes van Wyk as regisseur.

Daar is ook Mirakel met David Minnaar en Bettie Kemp, oor ’n teatergeselsekap in 1938 wat onder die befaamde Dante du Pré ’n klein dorpie besoek om verligting in die swaar tye met kuns te bring. Nog ’n vertoning waarna feesgangers kan uitsien, is Reünie met Frank Opperman en De Klerk Oelofse as regisseur.


Die Goeie Pa
is die Afrikaanse weergawe van die internasionaal bekroonde teaterstuk The Good Dad-a Love Story. Paul du Toit het ’n Fleur Du Cap gewen as beste regisseur van die produksie en dit het ook agt Fleur de Kap-benoemings ontvang.

Een van vele hoogtepunte is Hannes aan Huis, waar Hannes van Wyk met sommige van die grootste name in die vermaaklikheidsbedryf gesels.

Die kinders kan regmaak vir pret met produksies soos die plaaslik vervaardigde Hans Haas sê Hallo, Lollos Skattejagen Woelige Willemien en haar maatjie, Meraatjie.

Die musiekskatkis is oop met onder meer Brel/Piaf ’n Kabaretmet André Schwartz, Amanda Strydom en Coenraad Rall met regisseur Saartjie Botha.

Elandré met Hand aan Hand, Jak de Priester met Eerste Liefde, Jan Blohm, Jannie du Toit en Thean Kotze met die liedjies van Lucas Maree in Kiekies – Lucas se Liedjies is nog vertonings om na uit te sien.

Die kunsmark in en om die Callie Human- en die Eksamensentrum gaan ook besonders wees. Garbett sê daar word op gehalteprodukte gefokus.

“Die stalletjies gaan elke dag, asook saans oop wees.”

Hy sê daar gaan talle verrassings wees soos ses sones waarop straatvermaak geniet kan word. Enigeen kan hier ’n storie vertel of gedigte opsê.

“Die idee daarmee is om ’n skeppende sone vir mense te skep.”

Feesgangers kan tussen vertonings by talle gewilde restaurante ontspan. Dit sluit in De Oude Kraal se restaurant in die Eksamenlokaal, Summerwood in Eksamenlokaal 4, asook Leopards & Lace in die Groen Kamer.

Garbett sê die Blêrkas op die parkeerterrein van die Odeion gaan vanjaar ’n gesinsvriendelike ruimte wees wat ’n plek vir sportliefhebbers bied om wedstryde op die grootskerm te kyk. Dit sluit die toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland op 15 Julie in.

Toegang tot die kampus van die Universiteit van die Vrystaat is R20 per persoon en dié toegang geld ook vir toegang tot die Blêrkas.

Teen R60 kry ’n persoon toegang tot die feesterrein vir die hele week. Toegang tot die Literêre Fees kos R35 of R500 vir die hele week.

Die kaartjiekantoor is vanjaar weer by die Odeion wat ’n week voor die fees reeds op die kampus sal wees, of koop kaartjies vooraf by Webtickets of by Pick n Pay.

“Kom wees deel van die kunsgemeenskap. Sonder die publiek is daar nie ’n fees nie,” nooi Garbett.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.