Oefen solank jou lagspiere, want die Vrystaat Kunstefees bied vanjaar weer ‘n verskeidenheid van humor en ‘n skouspel van komedie.
Met die aanbod wat wissel van gevestigde gunstelinge tot vars, jong stemme, is daar iets vir elke smaak.
Dit is slim. Dit snaaks. Dis net wat ons almal nou nodig het.
Die gesoute span bestaande uit Hannes van Wyk en Desiré Gardner het Magda en Erhard omskep as so te sê volksbesit. Die twee gaan die gehoor aan hul voete hê met vanjaar se feesvertoning: Magda en haar Erhard, how Louw can you go.
Hannes sê hy dink die rede vir die gewildheid van die reeks is omdat mense hulle met die twee karakters kan vereenselwig.
“Mense herken hulself in die karakters. Dit is nie uitsluitlik die humor nie, maar ook die waarhede wat hulle kwyt raak.”

Hy sê daar is heelwat geheime wat oor Magda en Erhard uitgelap gaan word…so maak seker jy kry jou kaartjies betyds. Die Vrystaat Kunstefees het vir hulle ‘n besonderse plek in hulle harte.
“Die mense se ondersteuning in Bloemfontein is altyd vir ons ongelooflik,” sê hy.
In nog ‘n komedie beloof Keelvol om ‘n unieke teater-evaring te bied. Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar (bekend vir hulle rolle as Louis en Naomi Koster in Binnelanders), is vir die eerste keer saam op die verhoog in Bloemfontein.
Die bittersoet vertoning beloof om gehore se traankliere, lagspiere en hart aan te raak. Je-ani was nog nooit vantevore in die Rosestad nie en sê sy sien veral uit om die befaamde gasvryheid van die Vrystaatse mense te ervaar.
Germandt sê Keelvol is iets anders, maar hulle is opgewonde om dit na die verhoog hier te bring.
Vir dié wat ‘n bietjie buite die boks en aweregs wil lag, is Tollie Parton: Hoofseun, ‘n vertoning wat gekyk móét word. Dié is ‘n hoogs aansteeklike, semi-aanstootlike kykie na wat dit werklik beteken om ‘n klein Afrikaanse dorpie se verwagtinge te swaai.
Wynand Kotze, Vanrhynsdorp se voormalige hoofseun, is nou die fopdosser Tollie Parton. Hoe het dit gebeur?
Michael Garbett, feesdirekteur, sê die program is saamgestel vir mense wat hou van iets met meer om die lyf.
“Met ons komedieprogram ontmoet wysheid en waagmoed mekaar. Humor is iets wat mense verbind en herinner om werklik te leef.”
Die Vrystaat Kunstefees duur van 12 tot 19 Julie. Kry meer inligting hier.
You must be logged in to post a comment.