Projekte en beplanning is voluit aan die gang vir die ATKV-gemeenskapsteatertak in Bloemfontein se eerste #Weesdieverskil-fees, wat op 3 Desember op die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied gaan word. Die fees word ten bate van die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede aangebied.
Skole is uitgedaag om skenkings vir Jean Webber te doen. Die Laerskool Willem Postma is as die wenner aangewys, terwyl die Lettie Fouché-skool ook ’n goeie bydrae gemaak het.
Die hoof van Willem Postma, Jaco Kotzé, sê leerlinge het skenkings gedoen vir drie projekte: Kersgeskenke vir terreinpersoneel, insameling vir minderbevoorregtes in die gemeenskap, asook die insameling vir Jean Webber.
“Dit is vir ons lekker om terug te gee,” het Kotzé Saterdag (19/11) in Northridge Mall gesê, waar verbygangers skenkings kon doen.
“Ons gaan die prysgeld wat ons by die ATKV gewen het, gebruik om geskenke vir Jean Webber se inwoners te koop.”
Die fees begin om 07:00 met ’n pretdrafgeleentheid aangebied deur New Beginnings op die terrein van die Oorlogsmuseum. Die hekke na die mark en ander bedrywighede open om 08:00. Om 09:00 kan families en ondernemings aan boeresport deelneem. ’n Vol program wag – dit sluit in ’n poppekasvertoning en boekbekendstelling, ’n toneelstuk deur Ilne Fourie in Next customer please?, asook die ATKV se Kersspel, Wie is Jesus.
Toegang kos R10, maar is gratis vir kinders jonger as 12 jaar.
Rig navrae aan Ebeth Wilson by 083-560-9178.