Op die oorhandiging van geskenke wat die ATKV in aanloop tot die #Weesdieverskil-fees op 3 Desember by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke ingesamel het, is van links, voor: Ntabiseng Dirgasae en Johanna Kearney (inwoners van die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede); agter: Andriette Potgieter (ATKV), Annelie Krause (Metro Real Estate), Kedibone Lecoko, Jaco Spies, Ebeth Wilson, Gertjan Holzhausen (almal van die ATKV) en Yvette Smith (Metro Real Estate). Foto: Lientjie Mentz

Nie net is die inwoners van die Jean Webber-huis, wat ’n tuiste vir erg gestremde mense bied, behoorlik trakteer op die ATKV se #Weesdieverskil-fees op 3 Desember nie, hulle is ook met Kersgeskenke verras.

Bestuurslede van die ATKV in Bloemfontein het Donderdag (08/12) Kersvader gespeel en aan die 38 inwoners elk ’n geskenkpak oorhandig.

Dit is saamgestel uit toiletware wat as deel van die ATKV se skoleprojek ingesamel is.

Die Laerskool Willem Postma is as die wenner van die projek aangewys.

Benewens die geskenkpakkies, het elke inwoner danksy die skenking van Metro Real Estate nuwe beddegoed ontvang.

Oupa Seakwa spreek namens die inwoners sy dank uit vir almal se skenkings.

Personeel by die sentrum is ook bedank vir hul volgehoue werk met ’n geskenkbewys.

Oupa Seakwa, ’n inwoner, het almal betrokke bedank dat hulle inwoners so spesiaal laat voel.

Sowat 20 van die inwoners asook 60 mense met gestremdhede wat werk by die Kopano-werkswinkel, het die fees bygewoon waar hulle die eregaste vir die dag was.

Jackie Malan, maatskaplike werker en bestuurder van Jean Webber, sê die inisiatief deur die ATKV om die huis deur die jaar te ondersteun het, het ’n reuse-verskil gemaak.

Vroeër vanjaar het die ATKV ’n kisvrieskas geskenk en die publiek genooi om kosskenkings vir Jean Webber te maak wat daarna oorhandig is.

Lillian Tau (regs) help vir Natis van Niekerk, inwoner van die Jean Webber-huis, om sy geskenkpak oop te maak.

Malan sê daar is baie uitdagings en sy vra dat mense by Jean Webber betrokke moet raak.

“Vir baie van die inwoners is dit hul enigste tuiste en ons is afhanklik van die publiek vir skenkings om baie van die basiese benodigdhede vir die versorging van die inwoners beskikbaar te stel”.

Hulle het veral ’n behoefte aan skenkings van mediese handskoene, gaas, linnebedekings en medium en groot volwasse doeke.

Rig navrae by 051-430-3884.

You need to be Logged In to leave a comment.