Fees bekend gestel: Van links is De Villiers Brink, Michael Garbett en Maritsa Barlow op die geselligheid Donderdag 18 April.Foto: Lientjie Mentz


Opwinding is aan die opbou vir vanjaar se Vrystaat Kunstefees, wat van 2 tot 6 Julie op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word.

De Villiers Brink, voorsitter van die Vrystaat Kunstefees se raad, sê die Vrystaat Kunstefees is meer as net ’n viering van die kunste.

“Dit is ’n viering van ons ryk kulturele erfenis, ’n katalisator vir kreatiwiteit.

“Die fees is ’n uitbeelding van diverse energie en die unieke karakter van Vrystaters.”

Brink sê Suid-Afrikaanse asook internasionale kuns word vanjaar op die fees gevier.

“Vanjaar se fees gaan alle verwagtings oortref en grense skuif.”

Hy verwys na Frynge wat deur die jare ’n besonderse geleentheid vir nuwe stemme met talent bied.

“Saam bied ons ’n fees vir die mense – ’n fees met baie stories, energie en vorme van kuns. Dit beeld die mag van kuns uit.”

Michael Garbett, feesdirekteur, sê hulle is baie opgewonde oor die vertonings wat vanjaar na die fees toe kom.

Van die teaterstukke waarna feesgangers kan uitsien, sluit in Ons Wag vir Godotmet Gerben Kamper, Chris Vorster en Pieter Taljaard; Marion Holm met haar stories oor flops, foute, vegetariërs en vrouwees; Hans gee Herklaas Horings met Tobie Cronjé; en vele meer.

Talle boeke wat die afgelope jaar bekendgestel is, word op die fees bespreek. Dit sluit in: Gebeente deur Etienne van Heerden, Marius Weyers deur Chris Vorster, Droomjagter deur Leon van Nierop en Bloedsomer deur Sidney Gilroy.

Sangers en musikante op die fees is Amanda Strydom, Rocco de Villers met Boeremusiek Roccostyl, Anna Davel met Daarom skryf ek, André Schwartz metAny Dream will do – my pad met Webberen Joseph Clark met die musiek van Queen.

Kaartjies vir al die vertonings op die fees is reeds te koop en is op webtickets.co.za beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.