Fees op regte noot

Die derde Vrystaat Klank en Klassik (VKK) vind van 30 Oktober tot 6 November in die Odeion­-teater op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas.


Die derde Vrystaat Klank en Klassik (VKK) vind van 30 Oktober tot 6 November in die Odeion­-teater op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas.

Van die beste studentemusici tot internasionale sterre tree op in van ’n solo-klavieruitvoering tot ’n grootse koor en orkes.

Saint-Saëns se Oratorio de Noël (Kers-oratorium) met vyf soliste, ’n koor bestaande uit die Odeion Skool vir Musiek (OSM) se sangstudente, Jan Beukes voor die orrel en ’n ad hoc-orkes, almal gelei deur Anmari van der Westhuizen op die dirigeerpodium, open die fees op 30 Oktober en is gratis.

Verlede jaar was die studentekonsert ’n wenner; dus kry OSM-musiekstudente weer die geleentheid om hul slag te wys in solo’s en ensemblewerke op 31 Oktober. Dit is ook gratis.

Die sopraan Sibongile Mngoma is een van Suid-Afrika se operasterre wat al haar stempel oorsee afgedruk het, maar sy verkies­ om dit nou in Suid-Afrika te doen. Sy sing opera-arias van Mozart, Verdi, Rossini, Donizetti en ander. Vir afwisseling sing sy enkele duette saam met ’n tenoor en bariton. Dié konsert, met Lesley-Ann Mathews as pianis, is op 1 November. As jy gedink het die altviool speel altyd tweede viool, kom luister op 2 November na die insiggewende program wat die altviolis Jeanne-Louise Moolman­ saamgestel het. Dit sluit ’n duo met ’n kontrabas in en selfs ’n trompet word betrek. Die violis Samson Diamond, lid van die bekroonde­ Odeion-strykkwartet, kry ook speelkans en ’n paar altvioliste vorm ’n ensemble.

Diegene wat nog nie van die pianis Nicolene Gibbons gehoor het nie, moet kom luister hoe dié teruggekeerde Bloemfonteiner ’n klavier laat klink. Sy was Nicolene van der Walt toe sy voorgraads aan die UV studeer het. In dié tyd het sy verskeie beurse ontvang wat gehelp het om haar loopbaan in Brittanje voort te sit.

Sy speel Robert Schumann se Simfoniese studies, op. 13, Klavierstudies nr. 2, 3, 5, 6 en 10 van Philip Glass en sluit af met Moessorgski se monumentale Prente op ’n uitstalling. Dié solokonsert is op 3 November.

Die Big 5 Brass Quintet is die ideale keuse vir Vrydag 4 November.

Die musici is Brendan en Eugene Kierman en William Haubrich van Kaapstad, en Paul Loeb van Zuilenburg en George Foster van Bloemfontein.

Skrywer en akteur Leon van Nierop, verduidelik op 5 November hoe ’n radiodrama opgeneem word. Hy doen dit aan die hand van die wonderlike Het van Verlangekraal

Die fees se hoofprogram is 3 Soprane en Mathilda op 5 November om 18:30 met Magdalene Minnaar en Brittany Smith, albei van Kaapstad, en Teresa de Wit, mezzosopraan van Kimberley. Mathilda Hornsveld sal die orkesklanke na die klavier verplaas. Op 6 November eindig die fees met optredes deur die beste presteerders in die eksamens van die AB Royal Schools of Music. Alle optredes is in die Odeion. Konserte begin om 18:30, behalwe die oratorium op 30 Oktober om 16:00; Leon van Nierop op 5 November om 14:30; en die ABRSM-presteerders op 6 November om 15:00. Kaartjies en kaartjiepakkette is by Webtickets.

Die Rupert-stigting en die Odeion Skool vir Musiek is die hoofborge van die fees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.