’n Winterfees bring hoop.
Skuins met ’n groot straat af, daar waar die winterkoue selfs nog valer gaan lê as elders in ons dorp, sien ek hulle op my pad na die kunstefees.
Skraps gepantser teen die koue, hier en daar ’n paar stewels en glimps van ’n gister se jas, neem hulle gretig die bekers sop van die engel wat skep uit ’n groot kastrol. Sommer daar op die sypaadjie, sommer daar in haar oorjas en pantoffels, want sy gee om.
Dis koud in ons dorp, die koudste dag van die jaar.
Ons lag, want dis hoe dit hoort op die eerste dag van die fees. Koffie en kaartjies word saam verkoop.
Die kombersstalletjie doen goed, die knieë kry mos koud by netnou se konsert.
Soos by ’n kampvuur sit die kinders in ’n kring om die kinderboekkoning in die Eeufeessaal.
Dis storie-uur, en hy lees voor uit sy eie boek. Die boekbesprekings loop vir vyf dae ’n pad saam met sjerpas vir die lewensreis, verby Sagie, seun van die Klein-Karoo, tot by die Pienk Paleis.
Temas van skuld en onskuld, straf en vergifnis, word aangespreek.
Die skreiende eerlikheid en dapperheid waarmee ’n geliefde skrywer ons saamneem op haar voorbereidingspad na die dood, laat my met verwondering en hoop in die koue winter van ons dorp uitstap.
Op my pad huis toe laai ek ’n bakkie warm feeskos af by Hansie en sy hond voor die mall.
“Die hond het vandag ’n jas in die verbyry gekry by ’n goeie mens, Mevrou!” lag Hansie die koue weg.
Terug by die fees sing Jak van vroeë liefde en Jannie en Thean onthou ons vriend Lucas terwyl hulle na sy kiekies kyk. Mathys en Jacobus speel op Lisa se klavier en hulle sing ’n liedjie vir my.
“Sonvanger” bring verlange na my kinders ver agter die horison, daar waar die son met hulle in verskillende kleure speel.
Vroeg Saterdagaand hou Frank reünie en neem die hele saal terug tot agter die skoolpaviljoen.
Die lewe maal en dwaal oor 40 jaar, maar onthou laat ook drome en hoop opnuut herleef.
Die feesgordyn sak met André en Amanda wat ons neem op die vlerke van Brel en Piaf.
Nostalgies, gestroop en eerlik sit hulle afskeid, oudword en heelword sag in my hande neer.
Laataand ry ek huis toe met ’n winterwind wat warm deur die motor waai.
Ek dink aan die kinders, ’n sopkastrol en ’n engel aan die ander kant van die dorp.
Ek dink aan hul sypaadjiefees wat óók sorg vir hoop en warmte soos Bloemfontein se somerson.