Sanger, digter en liedjieskrywer Jan Blohm se kunswerke word op vanjaar se Vrystaat Kunstefees uitgestal.Foto: Verskaf


Lag, huil, eet en kuier.

Dit is wat jy kan verwag op die eerste volwaardige Vrystaat-Kunstefees ná die pandemie.

Die fees, wat Dinsdag (11/07) op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat begin het, is baie meer kompak as in die verlede. Dit maak dit makliker vir feesgangers om te kies waarna hulle wil kyk.

Hannes van Wyk, wat daagliks op Hannes aan Huis-geleenthedemet bekendes en kunstenaars gesels, het die fees­direkteur, Michael Garbett, Dinsdag geluk gewens met die goeie organisasie van die fees.

“Hier is wonderlike vertonings op die fees,” het Van Wyk gesê.

“Ek daag mense uit om ten minste een teatervertoning te gaan sien wat hulle nie gewoonlik sal kyk nie.”

Feesgangers kan uitsien na produksies soos Mirakel, Die fel omstrede kroon, Edward ll en Gaveston, Nêrens Noord-Kaapen vele meer. Frank Opperman het met die eerste vertoning van ReünieDinsdag staande toejuiging gekry vir sy lag-met-’n-traan-eenmanvertoning.

Een van die hoogtepunte van die fees is vermaak vir kinders tydens die wintervakansie.

Woelige Willemien en haar maatjie, Meraaitjie het die kinders laat skaterlag. Die vertoning Hans Haas sê Hallois reeds uitverkoop, maar daar is nog vertonings oor van Lollos Skattejag.

Besonderse kuns­uitstallings is op vanjaar se fees te sien. Gaan loer in by die Litema-projek in Eksamenstrum 5, waar 3D-kunswerke deur studente uitgestal word. Prof. Gerhard Bosman vertel meer oor dié Oos-Vrystaatse-styl kunswerke en die projek wat in samewerking met Basotho-vroue daar gedoen word.

’n Besonderse projek waarna Bloemfonteiners beslis moet gaan kyk, is die gesamentlike foto-uitstalling deur Gilbert Gibson en Martin Schwella, arts photogripha, in die Scaena-voorportaal.

Die idee agter dié uitstalling kom van Gibson wat vir Schwella gevra het om hom te help om die “tekens van die tyd” vas te lê.

“Ons het elkeen 18 foto’s geneem wat ironie in die omgewing vasvang,” sê Schwella.

Al die foto’s is in Bloemfontein geneem.

Ook, die sanger en digter Jan Blohm se kunswerke word in die Eeufeeskompleks se voorportaal uitgestal.

Daar is heelwat restaurante waar feesgangers ’n rukkie kan vertoef nadat hulle tussendeur die stalletjies op die feesterrein gedrentel het. Dit sluit in Summerwood se restaurant in die Eksamenkompleks, De Oude Kraal in die Eeufeeskompleks en Leopards & Lace se eetgoed by die Wynand Moutonteater.

Die fees duur nog tot Saterdag (15/07).

Toegang by die hekke kos R20 en kaartjies is beskikbaar by die kaartjiekantoor by die Odeion op die kampus.

You need to be Logged In to leave a comment.