Fees van hokkie in Bfn

Sewe hokkiespelers van Bloemfontein is in Suid-Afrikaanse spanne ingesluit ná ’n inter­provinsiale kampioenskap wat verlede week in die stad beslis is.


Mia Schimper van die Hoër Meisieskool Oranje (regs) en Baylee Engelke van Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch in die A-afdeling-eindstryd van die interprovinsiale o.18-toernooi vir meisies. Foto: Mlungisi Louw

Sewe hokkiespelers van Bloemfontein is in Suid-Afrikaanse spanne ingesluit ná ’n inter­provinsiale kampioenskap wat verlede week in die stad beslis is.

Die Suid-Vrystaatse meisies het koning gekraai teen Boland in die A-afdeling van die Suid-Afrikaanse Skolehokkievereniging (Sashoc) se interprovinsiale o.18-toernooi, wat op die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies), Eunice High School en Grey-kollege se bane beslis is.

Dit was die Suid-Vrystaatse skolehokkievereniging se beurt om dié toernooi aan te bied.

Nadat die telling in die eindstryd Vrydag (30/06) 0 – 0 was toe die amptelike wedstrydtyd verstreke was, het die Suid-Vrystaters ’n naelbyt-oorwinning verseker met ’n telling van 3 – 2 in ’n strafdoel-stryd.

Die span het bestaan uit sewe leerlinge van Eunice, sewe van die Hoër Meisieskool Oranje en twee van St Michael’s School.

Taheera Augousti van Eunice is as die speler van die toernooi aangewys, asook die doelskieter met die hoogste punte. Germarie Spershott van Oranje is as die waardevolste verdediger aangewys en Lilly-Anne Theron van Eunice as die beste doelwagter. Die drie is in die Suid-Afrikaanse o.18A-span ingesluit.

Carien de Wet van Oranje en Solange Jacobs van Eunice is in die Suid-Afrikaanse o.18B-span ingesluit, terwyl Mia Schimper van Oranje vir die o.17A-span gekies is.

In die A-afdeling vir seuns het die Westelike Provinsie (WP) Suid-Gauteng met 3 – 1 geklop om met die trofee te kan spog.

Roan Janse van Rensburg van Grey-kollege (sekondêr) is in die Suid-Afrikaanse o.18A-span ingesluit.

Die o.18A-spanne speel van 9 tot 11 Julie by Kovsies teen die Suid-Afrikaanse o.21-spanne.

Die o.13-toernooi het vroeër die week, van 2 tot 5 Julie, plaasgevind en die o.16-kampioenskap begin Vrydag (07/07) en duur tot 12 Julie.

Die Suid-Vrystaatse hokkiespan wat die toernooi gewen het, was van links, Anriette Otto (Hoër Meisieskool Oranje) Trusten Barnard (Eunice High School), Itumeleng Semoli (St Michael School), Reatile Pitso (Eunice), Taheera Augousti (kaptein, Eunice), Tyler Barlow (Eunice), Nadine Claassens (Oranje) en Omphile Hendricks (Oranje); agter: Gyster van Schalkwyk (afrigter), Lilly-Anne Theron (Eunice), Jordan Fisher (St Michael), Carien de Wet (Oranje), Kayla Olivier (Oranje), Khanya Mtimkulu (Eunice), Germarie Spershott (onderkaptein, Oranje), Mia Schimper (Oranje), Solange Jacobs (Eunice), Nika Coertzen (assistent-afrigter), Sulette Kotzee (assistent-afrigter) en Chanté Jacobs (spanbestuurder). Foto: Verskaf
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.