Fees van wintergeregte kom

Die tyd kom nou vinnig nader vir een van die Vrystaat-winter se lekkerste gebeure: De Oude Kraal se gewilde WildsKOSfees, wat vanjaar op Saterdag 10 Junie plaasvind.


Die tyd kom nou vinnig nader vir een van die Vrystaat-winter se lekkerste gebeure: De Oude Kraal se gewilde WildsKOSfees, wat vanjaar op Saterdag 10 Junie plaasvind.

Oudergewoonte word daar hard gewerk om al die voorbereidings vir dié fees met sy oorvloed smullekker wildsgeregte, landgoedwyn en gourmet-happies te tref.

Marie Lombard, sjef en eienaar van De Oude Kraal, glo wildsvleis is een van die beste wintergeregte in Suid-Afrika.

Sy glo die ware potensiaal van wildsvleis is nog nie ten volle ontgin nie en sy en haar span sit elke jaar nuwe en vindingryke geregte, bykosse en souse voor.

Die wildsvleis waaraan gaste kan proe, sluit in springbok, rooibok, blouwildebees, rooihartebees, swartwildebees, vlakvark, volstruis, waterbok, krokodil en ystervark. Skaapkop word ook voorgesit. Vir dié wat effe skrikkerig vir wildsvleis is, sal daar smullekker bees-, skaap-, vark- en hoendergeregte wees.

Vanjaar sal wyn van 23 landgoedere op die fees wees en besoekers kan wyn direk van die landgoed koop. By elke wynstalletjie sal besoekers vyf tot ses soorte wyn kan proe.

Van die wildsvleis- en wynstalletjies is saam groepeer, in gevalle dat hulle mekaar in die besonder komplementeer.

Benewens die wildskos en wyn, is daar weer ’n gourmet-saal waar eksklusiewe happies saam met uitgesoekte wyn bedien word.

Ander aktiwiteite wat vanjaar weer aangebied word, is: kleiduifskiet vir almal ouer as 14 jaar; .22-skiet; ’n trekker-en-wa-rit om die plaas, sy diere en die wildlewe te besigtig; ’n gholfhou-putjie; en De Oude Kraal se Plaaskombuis met ’n verskeidenheid koek, tert, koffie en warm sjokolade.

Musiek deur Tango Etc. , wat van 09:00 af in die gourmet-saal optree, kan deur feesgangers geniet word. Musikante wat van 11:00 af op die hoofverhoog optree, is: Jacobus Silwer, Lizzy en JC; Cezanne Yzelle en Peter Cleff; Naledi Mohapi en sy orkes; die broers van Karoo; Ryk Kleinhans en Peter Cleff; asook Good Company. Zak Steyn sal van 17:00 tot laat in die tent optree.

Kaartjies kos R595. Kinders van 13 tot 17 jaar betaal R250, en kinders van ses tot 12 jaar oud R150. BBP-kaartjies vir toegang na die Gourmet-saal kos R1 000 – dit bied ook toegang na al die ander geregte.

Kaartjies is by Crazy Daisy in die Fleurdal Mall, Daisy & Co by Prellerplein en Delta Express op die hoek van Tweede- en Pres. Reitzlaan beskikbaar.

Bel De Oude Kraal om besprekings te doen by 071-679-6596 of 051-564-0636, of stuur e-pos na info@deoudekraal.com.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.