“Ons wil nie net ’n verskil maak nie, ons wil die verskil in mense se lewe wees.”
Só het Ebeth Wilson, voorsitter van die ATKV-tak Gemeenskapsteater, gesê ten tyde van ’n geselligheid op 10 Mei waarop vanjaar se #Weesdieverskil-fees bekendgestel is. Die fees word vir Saterdag 4 November beplan.
“Daar is soveel nood in ons stad, die Vrystaat en in ons land. As ons net kan begin waar ons is en gee wat ons het.”
Wilson sê dit is belangrik om netwerke te bou om ander se nood te verlig.
Die geld wat vanjaar ingesamel word, gaan aan die Lettie Fouché-skool en die Vrystaat-nasorgsentrum geskenk word.
Soos verlede jaar, toe die geld gegaan het aan die Jean Webber-huis, wat ’n tuiste vir erg gestremde mense bied, wil die reëlingskomitee inwoners van die nasorgsentrum en leerlinge van Lettie Fouché op die fees verwelkom.
Vir vanjaar word ’n skattejag beplan, asook ’n toneelstuk geskryf deur Maretha Maartens.
- Hou Bloemnuusdop vir meer inligting oor die fees.
Ondernemings en organisasies wat die fees met borgskappe of deur projekte wil ondersteun, kan Wilson by 083-560-9178 bel.