Oudtshoorn trek in 2023 sy feesklere vir nege dae aan wanneer die 27ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) van 1 tot 9 April aangebied word.
Dié feesdatums val in die skoolvakansie, en die fees eindig oor Paasnaweek.
Die program word op 20 Januarie bekend gestel, met kaartjieverkope wat daarna op webtickets.co.za open.
Verblyfbesprekings kan reeds op die KKNK se webblad gedoen word.
Vriende van die KKNK ontvang die volledige feesprogram voordat dit bekend gestel word en het ook ’n kans om eerste hul kaartjies te koop, teen afslagpryse. Om aan te sluit, besoek die KKNK se webblad.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, sê daar wag vanjaar ’n propvol program op feesgangers.
“Dit sluit al die gewilde KKNK-elemente in, asook vernuwing en verrassings. Die gewilde opelug-aandkonserte keer terug, asook plekspesifieke toneelstukke. Dié multidissiplinêre program gaan feesgangers in alle genres vermaak en is op oud en jonk gemik.”
Theart sê soos in die verlede gaan Baron van Reedestraat in 2023 gesluit wees.
“Dié feestelike straat bied aan feesgangers gratis vermaak met impromptu optredes, musiek en heerlike kos en drinkgoed, van vroegaand tot laatnag. En natuurlik is die gewilde gespreksreekse, visuele kuns en ander leefstyl-elemente ook deel van die aanbod.
“ ’n Verdere bykomende element is ’n opelugmusiekfees waarmee die fees op 1 en 2 April begin. ’n Inkopieparadys is in die feesmark geleë en bied kuns- en kosstalletjies om van te kies en keur, met ’n musiekverhoog wat vermaak verseker.”
As deel van die KKNK word daar die eerste keer van 1 tot 4 April, in samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartement, ’n jeugkunstefees aangebied wat spesifiek op hoërskoolleerlinge en -onderwysers gemik is. Dié fees binne die fees is daarop gefokus om ’n liefde vir en belangstelling in die kunste te kweek deur ’n program van teater, musiek, dans, visuele kuns, aktuele gesprekke.
Sommige produksies en geleenthede word deur die jeug aangebied om só aan hulle ’n stem en platform te bied.
Pakkette met verblyf en kaartjies teen bekostigbare pryse word beskikbaar gestel, wat ook meesterklasse en werksessies insluit.
Vir meer inligting besoek kknk.co.za of stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za.