Margit Meyer-Rödenbeck sê dit is so heerlik om terug te wees in die “Brrr-koue Bloemfontein”, maar die harte klop warm.
Sy is te sien in twee produksies op die Vrystaat Kunstefees se minimark, wat Dinsdag (12/07) begin het en tot Saterdag duur: Liewe Heksie en die rolskaatse en die lawwe Laerskool Noord.
“Dit is soos ’n tuiskoms om op ’n verhoog op die Vrystaat Kunstefees te staan. Liewe Heksie sal altyd vir my heerlik wees. Dit is soos ’n ‘playdate’.”
En gesels die kleingoed lekker saam!
Oor Laerskool Noord sê Margit dit is ’n voorreg om ’n nuwe produksie hier in Bloemfontein te open.
“Ons het hard gewerk die afgelope maand, maar o, die genot om dit te deel – en die nerwe . . .”
Sy het groot lof vir Vrystater Ilne Fourie vir die teks en haar spel in die komedie.
“Komedie is ’n spansport – almal moet saam in dieselfde rigting gaan.”
Die feesmark in en om die Callie Human-sentrum bied alles van handgemaakte produkte tot drinkgoed soos jenewer en van die land se beste wyn, asook eetgoed om aan te smul terwyl jy die sonnige feesvieringe geniet.
Erika Kleynhans, ’n uitstaller, sê haar gehekelde en gebreide artikels is alles produkte wat sy deur die loop van twee jaar van inperking gebrei het.
“Ek het sommer lekker baie voorraad bymekaargemaak.”
Ook ander uitstallers is vrolik daaroor om weer ’n slag deel te wees van hierdie mark op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Benewens die stalletjies en verhoogproduksies is daar elke middag kunstenaars op die Oopverhoog voor die eksamensentrum, waar plaaslike kunstenaars sing. Die bedrywighede op die verhoog word met die samewerking van Bloemnuus aangebied.
Die Summerwood-landgoed bedryf ’n restaurant in die eksamensentrum. Wegneemkos is ook hier beskikbaar.
Kaartjies vir die vertonings is beskikbaar op webtickets.co.za of op die feesterrein. Daar is ’n kaartjiekantoor by die besoekershek in D.F. Malherbelaan waar toegangs- en teaterkaartjies gekoop kan word. Toegangskaartjies kos R20 per dag. Daar is ook ’n Clicks-tent waar ’n eenmalige vinnige Covid-toets geoen kan word.
Die volgende teaterproduksies word nog van vandag (14/07) tot Saterdag aangebied:
Kopanong-ouditorium (Kovsiekerk)
* Laerskool Noord, ’n komedie met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee. Gerhard Lombard is die regisseur. Fourie het die teks geskryf. Drie onderwyseresse met uiteenlopende persoonlikhede reël ’n afskeidspartytjie vir die hoof. Vertonings is op 14 Julie om 19:30, 15 Julie om 20:00 en 16 Julie om 14:00.
* Liewe Heksie en die rolskaatse met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl is van 14 tot 16 Julie om 10:00 te sien.
Wynand Mouton-teater
* The Dressing Room, oor akteurs wat probeer om die dramas in hul regte lewe met hul teaterlewe te balanseer, is op 14 Julie om 15:00, 15 Julie om 19:30 en 16 Julie om 13:00 te sien.
* Hoe later, hoe kwater, ’n klug met misverstande, persoonsvergissing en algemene chaos in ’n Portugese tyddeel-villa wat dubbelbespreek is, is op 14 Julie om 18:00, 15 Julie om 15:30 en 16 Julie om 17:30 te sien.
Scaena-teater
* Die multidissiplinêre dansproduksie POP is op 14 Julie om 19:30 te sien.
Eeufees-saal
* Kortpad na memoire, ’n skryfskool deur Francois Smith en Zarine Roodt, is op 15 Julie van 08:30 tot 12:30 in die Kanselierskamer.
Aasvoëlklub
* Mini-Abba (14 Julie);
* Radio Waves (15 Julie); en
* Legendes van Afrikaanse musiek met Mario Lategan en Cézanne Yzelle (16 Julie).
Die Vrystaat Kunstefees se hooffees, met ’n groot verskeidenheid produksies en sy Kunstemark, word van 2 tot 8 Oktober op die Kovsiekampus aangebied.