Die begrafnis van Aletta (Skat) Klopper (91) is Saterdag (06/05) om 11:00 in die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Noord in Dan Pienaar.
Die ma van die bekende Klopper-broers, is Saterdag (29/04) in die vroeë oggendure in haar slaap in haar meenthuis in die Sewe Damme-aftreeoord oorlede.
Leon Klopper, een van haar seuns, sê sy Ma se groot wens dat sy rustig in haar slaap, by haar huis sou sterf.
“Dit is goed dat dit so uitgewerk het. Ons het Vrydagaand nog vir oulaas lekker gekuier.”
Leon sê sy Ma was werklik ’n fenomenale vrou.
“Sy sou in Julie 92 jaar oud geword en ons het gevra of ons vir haar ’n konsertjie (partytjie) kon hou. Sy sê toe nee, vir wie gaan sy nooi, daar is dan niemand oor nie.”
Die Klopper-familie het beplan om hierdie naweek in Bloemfontein saam te trek en byna almal sal dit kan bywoon, sê Leon.
Ná die diens in die kerk, gaan die familie by die Ramblers-klub saamtrek.
“Ons het baie goeie herinneringe van Ramblers. Dit is waar ons ouers ontmoet het,” vertel hy.
Tannie Skat en een van haar susters het in die jare 1950 van Montagu na Bloemfontein gekom. Hulle het albei hul wederhelftes by die klub ontmoet.
Wyle Willem Klopper en Skat is in 1952 getroud en die seuns Willem, Steva, Leon, Anton, Wouter en Dirk is uit die huwelik gebore. Willem het die bekende Kloppers-onderneming in 1967 begin wat deur die jare deur die seuns uitgebrei is en vandag ook takke in George, Knysna, Port Elizabeth, Kloppers Sport in Somerset-Wes, Stellenbosch en Cape Gate het.
Leon sê hy en sy ma het nog Vrydag-aand laat sit en tennis kyk en saam ’n glasie wyn gedrink.
Sy laat ook 6 skoondogters, 17 kleinkinders en 11 agterkleinkinders na.