Die tuin van Tjaardina Breitenbach het ’n eerste plek behaal in die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) se sypaadjiekompetisie.
Pryse vir die mooiste sypaadjies is op die FWA se jaarvergadering op 3 November toegeken.
Al die deelnemers het sertifikate ontvang en die wenners is met pryse beloon.
Die tuine van Aleshia Coetzee en Kolie Badenhorst was tweede en dié van Marikus Claase was derde.
Alet Botes, Wilna Ferreira en Bella Minnie het ook spesiale pryse gekry.
Nadia Meiring, woordvoerder van die FWA, sê die inwoners van Fichardtpark word aangemoedig om hul sypaadjies te verfraai en ook skoon en netjies te hou om dié woonbuurt op te kikker.
“Dit is vir ons veral belangrik dat ’n sypaadjie toeganklik moet wees vir voetgangers.”
Sy sê die vereistes waarvolgens die tuine beoordeel is, is die algemene indruk van die tuin, netheid, verskeidenheid plante, oorspronklikheid binne die tuin, die hoeveelheid waterwyse plante in die tuin en die toeganklikheid van die tuin.