Die netbalbane by die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein is onlangs verbeter en daarmee saam is daar besluit om die bane na ‘n oudleerling en lid van die Protea-netbalspan Ané Retief, te noem.
Protea-netbalspeler Karla Pretorius, netbalafrigter by Fichardtpark, sê verbeterings is by die nege bane op die skool se sportterrein aangebring.
“Heelwat verbeterings is aan die bane en op die terrein om die bane aangebring soos nuwe plaveisel en die inrig van die klubhuis sowel as paviljoene by die bane,” sê Karla. “Met die borgskap van Spar kon ons werklik woeker om die geriewe te verbeter. Dit wys Spar se bydra tot vrouesport strek nie net tot op nasionale vlak nie, maar ook tot op skoolvlak.”
Karla sê die inrig van die bane is ‘n wonderlike aanwins vir die skool, maar ook vir die gemeenskap van die Vrystaat wat van die bane gebruik maak.
Die bane is na Ané genoem wat van 2012 tot 2016 hier op skool was. Sy was in 2016 die hoofmeisie en het haar hele hoërskoolloopbaan netbal gespeel en van 2014 tot in matriek vir die eerste span uitgedraf.
Ná skool was sy van 2018 tot 2020 ‘n netbalafrigter by Fichardtpark. Sy speel sedert 2017 vir die Vrystaat Crinums en sedert verlede jaar vir die Proteas netbal. Sy is ook ‘n netbalafrigter by Eunice High School.
Ané kan nie die onthulling van die bord voor die Fichardtpark Sportdag Saterdag 1 Maart bywoon nie, omdat sy tydelik in die plek van Nicola Smith vir die Mancester Thunder in Engeland se Netball Super League speel.
Haar ouers, Francois en Androëtta Retief sê dit is vir hulle hartseer dat Ané nie die naweek hier kan wees nie, maar dit is ‘n eer dat die bane na hul dogter genoem word. “Ek is seker sy sal ‘n draai kom maak sodra sy in April terug in die land is.”
Die Hoërskool Fichardtpark bied dié sportdag vanjaar vir die 24ste keer aan.
Die skoolhoof, Herman van der Merwe, sê dié dag het ontwikkel tot ‘n gesogte geleentheid en het ‘n hoogtepunt op menige skool se sportkalender geword.