Die eerste seunshokkiespan van die Hoërskool Fichardtpark het bo-aan die punteleer geëindig op die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks.
Die wenners van die verskeie afdelings van die reeks is Dinsdag 20 Augustus in Bloemfontein aangekondig waar al die wenspanne in die verskillende ouderdomsgroepe en sportkodes aangewys is.
Hoewel die Hoërskool Jim Fouché (JF) die trofee vir die seunshokkie gewen het, het Fichardtpark se eerste seunshokkiespan hul afdeling gewen, met dié skool se o.16B-span wat derde in hul afdeling was en bygedra het dat Fichardtpark algeheel vierde in dié afdeling was.
Daar is verlede week verkeerdelik in BloemNuus berig dat JF skoonskip in die o.19A-seunshokkie-afdeling gemaak het.
Dit is vanjaar die tweede jaar agtereenvolgens dat Fichardtpark se o.18A-span hul liga in die reeks wen. Hul laaste wedstryd in die reeks is op 20 Julie teen die Hoërskool Trio van Kroonstad in die stad gespeel met Fichardtpark wat die wedstryd 2-0 gewen het.
Die span was ook algeheel vierde in die Bloemfonteinse stadsliga.