Johnathan Duarte van die Hoërskool Fichardtpark hardloop met die bal in die rugbywedstryd teen die span van die Hoërskool Diamantveld in Saterdag se Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks in Bloemfontein. Agter hom is Dian Visagie en Unathi Ntuli (regs). Foto: JJ Photo’s

Die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks staan einde se kant toe, met net nog enkele wedstryde wat die naweek beslis word en die laaste rondes wat in Julie en Augustus plaasvind.

Die afgelope naweek het die Hoërskool Diamantveld van Kimberley na Bloemfontein getoer om op 23 en 24 Mei teen die Hoërskool Fichardtpark mee te ding.

Karla Pretorius, voormalige Protea-kaptein en Fichies se direkteur van netbal, sal veral tevrede wees met die vordering wat met haar netbalprogram gemaak is.

Fichies se eerste netbalspan het met 34 – 29 geseëvier en boonop het die o.14A-span met 29 – 18 en die o.15A-span met 21 – 19 as oorwinnaar van die baan gestap.

Wat die hokkie betref, het Fichies die bordjies verhang. Onlangs, in die Wildeklawer-toernooi, was Diamantveld aan die wenkant. Hierdie keer het Fichies egter sterk teruggeveg.

Die eerste seunshokkiespanne het 1 – 1 gelykop gespeel, terwyl Fichies se eerste meisiehokkiespan die span van Diamantveld met 2 – 1 geklop het.

Diamantveld het op sy beurt in die eerstespan-rugbywedstryd ‘n reuseoorwinning van 61 – 5 behaal. Alle aanduidings is dat dié Diamantveld-span moeilik gaan wees om in vanjaar se Wesgrow-reeks te klop.

Wat wel positief vir Fichies is, is dat die o.14A-rugbyspan met 15 – 7 gewen het.

Die naweek wat voorlê, reis die leerlinge van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein na Kimberley om daar teen Diamantveld in hokkie, netbal en rugby mee te ding.

dummy text

You need to be Logged In to leave a comment.