Fietsryers sal bly wees oor die terugkeer van die Shell V-Power Classic-fietstoer wat einde vandeesmaand in Bloemfontein aangebied word.
Dit is ‘n hele ruk sedert ‘n volwaardige langafstand-fietswedren in dié stad aangebied is en Janus van Wyk van Flare Events sê die wedren maak sy teurgkeer met vars energie en nuwe borge.
“Dit gaan ‘n nuwe ervaring vir fietsryers en toeskouers wees,” meen hy.
Die wedren vind op 24 Mei plaas, en die wegspringpunt is by die Shell Ultra City langs die N1.
Dit behels ‘n 26km-sirkelroete aan die buitewyke van Bloemfontein, wat deelnemers neem van die Ultra City in Kenneth Kaundaweg op tot by Willcoxweg; terug met Raymond Mhlabastraat tot by die N1; met ‘n omdraaipunt by Sunning Hill (die Astron Energy N1); en terug na die Ultra City.
Die langafstandwedren – wat die roete vier keer herhaal – behels die aflê van 104km, en dit is ‘n kwalifiseringswedren vir die Amashova-fietswedren later vanjaar in KwaZulu-Natal.
Daar is ook ‘n 52km-wedren vir families wat fietsry geniet. Die korter afstande is 26km vir beginners en ontluikende fietsryers.
Die kortste afstand behels ‘n 18km-wedren vir kinders en hul ouers.
Van Wyk sê die roete is op relatief plat teerpaaie wat ideaal vir beginners is, asook vir ervare fietsryers wat goeie tye wil opstel.
Daar sal motorfietspatrollies wees wat fietsryers sal veilig hou en sigbaarheid verhoog sowel as verkeersbeamptes, vlagmanne, mediese personeel en waterpunte op strategiese punte langs die roete. By die Race Village by Ultra City sal stalletjies wees vir fietsryers wat klaarmaak en ondersteuners.
Een van die trekpleisters van die wedren is die medalje wat in die vorm van ‘n legkaart is. Vanjaar se medalje is die eerste stuk van die legkaart, met die volgende twee stukke wat in die volgende twee jare se wedrenne verky kan word.
Daar is ook pryse van R17 000 vir podium-plekke op die spel, asook gelukspryse.
Fietsryers kan hulle inskryf vir die Shell V-Power Classic op die webwerf flareevents.net, of rig navrae deur 063 289 6914 te skakel.