Al hoppende oor die graspolle het Bloemfonteiner Thys Pretorius die afgelope naweek ’n allemintige 302 km binne 22 uur op sy fiets afgelê om geld vir Kansa in te samel.
“Met die begin van die inperking het ek besluit om vir my met die grassnyer ’n roete op ons hoewe in Bainsvlei uit te lê sodat ek kan bly oefen,” sê Pretorius.
Hy het die eerste drie weke van die inperking gereeld die 1,8 km-paadjie op die hoewe van 2 ha gery, maar toe die inperking verleng word, het hy besluit om ’n groter uitdaging aan te pak.
“Ek het baie familie en vriende wat op die een of ander manier deur kanker geraak word, en ek het besluit om te probeer om 300 km binne 24 uur te ry om geld vir Kansa in te samel.”
“Ons het musiek gespeel en hulle was gereeld byderhand met iets te ete en te drinke.
Die roete was glad nie maklik nie, vertel Pretorius.
“Vroegoggend was die gras glad van die dou en die draaie is maar kort, en ons het drie huise op die hoewe, so dit is moeilik om ’n ritme te kry met die paadjie wat noodgedwonge draai en swaai. Dit was vriespunt toe ek Saterdagoggend uiteindelik klaarmaak.”
ThysPretorius het al 13 keer aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem en het ook 8 jaar gelede saam met ’n groep van Bloemfontein tot in Kaapstad, en vier4 jaar gelede van Johannesburg tot in Kaapstad, fiets gery.
“Dié uitdagings was baie meer pret as om dieselfde roete 170 keer te ry.”
Hy het dwarsdeur Vrydagnag gery en Saterdag om 04:50 die eindstreep gehaal toe hy 302 km voltooi het.
“Jackie en Monique het saam met my deur die dag wakker gebly om my te ondersteun. Ek is so dankbaar vir almal wat my ondersteun het en op die een of ander manier ’n bydrae kon maak om Kansa te help.”
Marike Simkin, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa in Bloemfonein en die Suid-Vrystaat, sê dit is wonderlik dat ThysPretorius so ’n avontuur ten bate van Kansa aangepak het. Sy sê enigiemand wat ’n projek wil begin om Kansa te ondersteun, kan hul kantoor kontak sodat Kansa hulle kan bystaan.
Kansa verkoop ook nou gesigmaskers en kopbande om geld in te samel.
“Ons gaan Tekkie Tax, wat ook geld vir Kansa insamel deurdat mense gekleurde veters en plakkers kan koop, tot 31 Julie verleng.”
Bel Simkin by 082-637-9485 of Pretorius by 082-556-9610 om ’n bydrae tot sy projek te lewer.