Drawwers se tyd raak min om vir die 31ste Kloppers-marathon voor te berei.
Dié wedloop, wat op Saterdag 19 Februarie in Bloemfontein aangebied word, dien as ’n kwalifiserende marathon vir die Comrades-ultramarathon.
Fikses kan hulle vir die 42,2 km-roete inskryf, maar afstande oor 21,1 km, 10 km en 5 km kan ook voltooi word.
Marathon-atlete spring om 06:00 by die Bloemfontein Achilles-hardloopklub in Att Horakstraat weg.
Die halfmarathon begin om 06:15, die 10 km-wedloop om 06:30 en die 5 km-roete om 06:45.
Inskryfvorms is tot 15 Februarie by Kloppers beskikbaar, maar hardlopers kan hulle ook Woensdae van 17:30 tot 18:30 by Achilles registreer.
Hardloopnommers kan van 16 tot 18 Februarie van 17:30 tot 20:00 by die klubhuis afgehaal word.
Die skool wat die meeste kaartjies vir die 5 km-pretloop verkoop, sal prysgeld wen.
Inskryfgeld vir die pretloop beloop R80, en deelnemers spring om 07:00 weg.
Skenkings van R20 word ook ten bate van die Bloemfonteinse DBV ingesamel.
Belangstellendes kan Wayne Beelders by 082-440-4229 bel om meer inligting oor die wedloop te bekom.