’n Groep deelnemers spring weg in die tweede uitdaging van die Titan Hybrid Heroes- kompetisie. Foto: Lientjie Mentz


Sowat 50 dapper mans en vroue het hulle ingeskryf vir die tweede uitdaging van die Titan Hybrid Heroes-kompetisie, wat Saterdag (13/08) by Be Human aangebied is.

Die eerste keer dat dié uitdagende wedloop by Bloemfontein plaasgevind het, was 6 Julie, en nog ’n uitdaging volg op 17 September.

Etienne van Zyl van Titan Hybrid Heroes sê die kompetisie bied ’n goeie balans tussen fiksheid en kragoefeninge.

Hy en vennoot Kevin Boshof van GrindSA bied die afgelope paar maande dié uitdagings oor die land heen aan.

“Op elke uitdaging kry die deelnemers punte om uiteindelik te bepaal wie die wenner in elke streek is,” sê Van Zyl.

“Die kompetisie is gemik op professionele atlete en enigeen wat aan hom- of haarself ’n lekker uitdaging wil stel. Mense wat aan hinderniswedrenne deelneem, dié wat CrossFit doen, asook mense wat hardloop en in die gimnasium oefen, neem graag deel.”

Elke uitdaging vereis dat tien kragoefeninge gedoen word, met 500 m wat tussen dié oefeninge gehardloop moet word.

“Die idee agter hierdie wedloop van ons het ontstaan uit die behoefte van deelnemers aan hinderniswedrenne wat graag tuis wil oefen. Ons gebruik artikels wat maklik beskikbaar is, soos sandsakke, pale en bande, vir die uitdaging.

“Dit is nie so tegnies uitdagend soos hinderniswedrenne nie, maar bied tog goeie uitdagings vir deelnemers,” sê Van Zyl.

You need to be Logged In to leave a comment.