Die ingangshek by die Woodland Hills Wildlife Estate.

’n Finale hofbevel is verkry en ’n werknemer van die Hillandale-huiseienaarsvereniging (HHOA) is afgedank nadat sy glo miljoene by dié vereniging gesteel het.

In ’n nuusverklaring wat Willem van Huyssteen, uitvoerende hoof van die HHOA-bestuur op Dinsdag 9 Desember aan inwoners gestuur het, sê hy die finansiële bestuurder word verbind met onregmatighede binne die HHOA se finansies-afdeling ná ’n formele ondersoek wat op 29 September begin is.

Kaydene Davids van Netwerk24 berig regter Corné van Zyl het laat in November Elrine Jacobs (40) onder finale sekwestrasie geplaas.

Jacobs, ’n geoktrooieerde rekenmeester, het die spoglandgoed Woodland Hills Wildlife Estate glo uit meer as R20 miljoen bedrieg.

In die nuusverklaring sê die bestuur ’n kurator is aangestel om te help met die ondersoek en die verhalingsproses.

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) is ook in kennis gestel, en ’n dissiplinêre proses is afgehandel; waarna Jacobs afgedank is.

Van Huyssteen bevestig in die verklaring ’n forensiese oudit word gedoen, wat verslag sal lewer oor die ongerymdhede.

“Hoewel daar in die media bedrae gekommunikeer is, is niks nog amptelik bevestig nie,” sê die verklaring.

Die verklaring sê verder die HHOA sal al sy geldelike verpligtinge nakom.

“In die 20-jarige bestaan, het die HHOA altyd ’n skoon oudit gekry. ’n Bekwame span lei die proses.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article