Leerlinge wat daarvan droom om hul eie rolprente te maak, kan deelneem aan Paul Roos-gimnasium se tweede nasionale Filmit-fees.

Vanjaar is die kykNET-reeks Suidooster ’n vennoot van die kompetisie en sal van die akteurs as mentors optree vir finaliste en wenners van die kompetisie.

Vier van die wenners van 2021 se kompetisie gaan gasverskynings in die sepie maak, waarvan twee van hulle rolle gaan kry waarin hulle iets gaan sê.

Die wenners het ook die geleentheid gekry om bekendes in die rolprent- en musiekbedryf te ontmoet wat hul rykdom kennis aan die leerlinge gedeel het.

Zia Geldenhuys, verlede jaar se algehele wenner het ’n mentorskap ontvang van Gambit Films, Infinity Films asook draaiboekskrywer, regisseur en aktrise Quanita Adams en redakteur Eva du Preez. Sy en Francois Lous en Robin Pheiffer het Gravitron, ’n ateljee wat spesialiseer in spesiale effekte in Kaapstad besoek.

Hoërskoolleerlinge van oor Suid-Afrika heen asook buurlande soos Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Eswatini en Lesotho kan ook nou hul kort films, dokumentêre rolprente, musiekvideo’s, animasieprojekte en ander kreatiewe rolprentidees inskryf vir die kompetisie.

Leerlinge kan inteken op die YouTube-kanaal Filmit Festival waar hulle kort video’s van kundiges in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf kan kyk om idees te kry oor die produksieproses, redigering en die skryf van ’n draaiboek.

Idees vir inskrywings moet teen 5 April om 20:00 ingehandig word.

Rig navrae by filmit@paulroos.co.za of besoek die webwerf www.paulroos.co.za/filmit

You need to be Logged In to leave a comment.