Talle mense kon in Desember gaan kyk na ’n groepie inwoners van die Westerbloem-aftreeoord se Liggiefees van Dankbaarheid en Hoop.
Erna Teubes, een van die inwoners van Fase 7, sê hulle het die Liggiefees aangebied omdat die Covid-19-pandemie mense se lewe geruk het.
“Ons het almal geliefdes verloor, en moes dit verduur toe geliefdes lank siek was of in eensaamheid in die hospitaal lê. Ons het die Covid-pad met al sy aanslae geloop, maar besluit om, ondanks die aanslae, die jaar met ’n fees van dankbaarheid en hoop af te sluit.”
Inwoners van Eikestraat en Geelhoutsingel in Fase 7 het hul huis met vrolike liggies versier.
“Ons het mekaar gemotiveer, alles goed beplan en op 16 Desember ons straat hier in die aftreeoord met flikkerende liggies en nogmaals liggies in ’n wonderwêreld omskep,” sê Teubes.
“Op spesifieke aande het ons die skouspel vir al die inwoners van die oord oopgestel, en ook vriende van buite genooi.
“Dit was wonderlik om te sien hoe mede-inwoners met rolstoele, loopkarretjies en motors aankom om die liggies te geniet. Vir ’n paar kosbare oomblikke kon hulle die luuksheid van vergeet geniet en hulle aan ’n towerwêreld van liggies verwonder.
“Die belangrike boodskap van hoop en dankbaarheid het die kol getref. Ons kon 2021, met al sy hartseer, stampe en stote, agterlaat.”
Hoewel moeilike tye dalk in 2022 mag kom, sê Teubes hulle sal die Liggiefees van Dankbaarheid en Hoop van Kerstyd 2021 – en die vreugde wat dit aan almal gebring het – onthou.