Fokus op die positiewe om ’n verskil te maak

Twee dae gelede, toe die krag vir die soveelste keer afgaan en my rekenaar morsdoodstil raak, voel ek hoe magteloosheid my aan die keel gryp.


Twee dae gelede, toe die krag vir die soveelste keer afgaan en my rekenaar morsdoodstil raak, voel ek hoe magteloosheid my aan die keel gryp.

Genade! Geen mens kan positief bly met al hierdie uitdagings nie, dink ek.

My gedagtes dwaal na die Israeliete wat snags deur die woestyn moes trek. Foeitog!

Hulle het nie elektrisiteit gehad nie. Geen herlaaibare batterye, of eens son- of windkragopwekkers nie.

Daar was geen Centlec of Eskom nie. Dit moes pikdonker gewees het, maar ten minste het hulle ’n vuurkolom gehad.

Dit het lig en hitte gegee op die ysige woestynnagte.

Ek kan net wonder hoe die gesprekke op daardie nagte geklink het.

En soos met die Israeliete, voel dit vir my dieselfde in Suid-Afrika.

Dis die een slegte ding op die ander.

Kragonderbrekings in fases waarmee ek glad nie kan tred hou nie. Die repokoers wat styg en petrolprys wat fluktueer.

Genoeg om enige mens in ’n donker put van depressie te sit. Ek wil summier ophou nuus lees of daarna kyk.

Smagtend na ’n krummeltjie positiwiteit, gryp ek inderhaas na my geestelike dagjoernaal en lees ’n jaar-oue nota raak.

Dit gaan oor Petrus wat vir die gelowiges van Korinte vertel oor die goeie nuus van Jesus Christus. (Gaan lees dit gerus in 1 Korintiërs 15.) Kan hierdie raaklees toevallig wees?

Toe die moedeloosheid nie wil wyk nie, luister ek na past. Desmond Wessels se daaglikse oordenking.

Hy praat “toevallig” ook oor die nuus.

Hy vertel dat die mediamense betaal word om die nuusgebeure van die dag weer te gee, maar dat dit ons – menende die ge­lowiges – se taak is om goeie nuus te verkondig.

Dit is mos die einste opdrag wat Jesus vir sy dissipels gegee het, voordat Hy hemel toe is.

En dit sluit aan by die voorbeeld wat Paulus gestel het met sy briewe aan die gemeentes.

Ons moet die sagte nuus­stories van wonderwerke, hemelse ingryping en verlossing vir mekaar vertel, op WhatsApp aanstuur of op Facebook plaas.

Eers later snap ek dit: Ons het vandag nog daardie onuitputlike bron van Krag wat soos die vuurkolom van ouds saam met ons beweeg. Sy naam is die Heilige Gees en Hy is nooit vêr nie.

Hy verskaf krag, liefde en selfbeheersing sonder enige onderbrekings.

Ek kan getuig dat God se lig die helderste geskyn het in die donkerste tye van my lewe.

Soos ek hier sit en skryf, weet ek daar wag nog vele uitdagings en donker dae op ons stad en land, maar die wete dat die Heilige Gees heelpad by my sal wees, gee my moed.

Ek wil jou uitdaag om saam met my ’n verspreider van goeie nuus te word.

Bloot deur op te hou kla en te fokus op die positiewe, kan jy ’n verskil in jou gemeenskap maak.

Leef só dat mense die goeie nuus van Jesus Christus in jou optrede kan sien.

Deel dit oral waar jy gaan, want slegs Hy kan werklik die donkerte in ons hart, siel en verstand verlig.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.