Die uitbetaling van ’n stewige R700 000 aan verskeie liefdadigheidsorganisasies in die Vrystaat en Noord-Kaap gaan gepaard met die aanstelling van verskeie nuwe komiteelede van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds.
Ds. Jannie Smith is gekies as die nuwe voorsitter van die Kersfonds. De Wet Claassens is die verteenwoordiger van Engo; Lientjie Mentz verteenwoordiger van Sentraal24; Dirk Kok die verteenwoordiger van Volksblad; en Elmarie Prinsloo en Betsie Roux is die verteenwoordigers van die gemeenskap.
Die komitee het op 7 Maart vergader om die toedeling van die fonds aan verskeie organisasies goed te keur.
Geregistreerde nie-regeringsorganisasies kon tussen Desember en Januarie met ’n opsomming vir waarvoor geld aangewend sou word, aansoek doen vir ’n bydrae uit die fonds.
Die begunstigdes sluit in: Genade in Aksie, die Omega-sentrum, Sannie se Kombuis, Vrystaat-geestesgesondheid, Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds in Bloemfontein, Torings van Hoop, die Heatherdale Hoërskool, Vrystaat-versorging in Aksie, Kindersorg Bloemfontein en Childline Free State, die Vereniging vir Blindes, Vrystaat, asook verskeie kinder- en jeugsorgsentrums. Ook Destiny House en Youthfull and Hopefull in Kimberley kry vanjaar ’n bydrae uit die fonds.
Aansoeke vir die volgende uitbetaling van die fonds kan van 1 April af gedoen word.
Verskeie geldinsamelings om die fonds vir die volgende uitbetaling te versterk word nou onderneem.
Die eerste is die veiling van kosbare versamelaarstukke op Menseregtedag (21/03).
Besoekers kan Dinsdag van 09:00 tot 11:00 by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke die ware besigtig wat opgeveil sal word. Registrasie, plus ’n katalogus, kos R50.
Die veiling begin om 11:00 en behoort tot 14:00 te duur.
Roux sê daar is besonderse stukke wat onder die hamer gaan kom, en almal is welkom om deel te neem. Daar sal ook verversings wees.
Die afslaer is Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers. Rig navrae oor die veiling aan Roux by 082-413-9275.
- Op Bloemskou kan skougangers ook ’n bydrae tot die fonds maak. ’n Houer sal by die kaartjieskantoor van die pretpark wees, waarin die publiek ’n kontantskenking sal kan maak. Bloemskou vind van 27 April tot 6 Mei plaas. Inbetalings aan die fonds kan gedoen word by: Volksblad Kersfonds, Nedbank-rekening 102-891-9980, takkode 117-134. Stuur bewys van betaling aan annemarie@engo.co.za.