’n Persoon wat anoniem wil bly, het ’n wonderlike skenking van R189 748 tot Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds bygedra.
Dit gee die fonds, wat ingespan word om liefdadigheidsorganisasies oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen geldelik te ondersteun, ’n goeie hupstoot.
Nog ’n anonieme skenker het R1 000 geskenk.
’n Veiling wat op 25 September by die Oorlogsmuseum ten bate van die fonds aangebied is, het R10 000 opgelewer.
Sobeth Jordaan, oudredaksielid van Volksblad wat reeds jare help met veilings wat ten bate van die fonds aangebied word, is op die veiling voorspoed toegewens.
Sy verhuis binnekort na die Weskus.
Instellings soos Vrystaat-Versorging in Aksie, Child Welfare Bloemfontein, Childline Free State, Genade in Aksie, Sannie se Kombuis, Torings van Hoop en talle Engo-programme word jaarliks ondersteun met geld wat deur middel van die Kersfonds ingesamel word.
Kerke, ondernemings en individue wat graag ’n bydra wil maak om liefdadigheid te ondersteun, kan ’n inbetaling by die volgende Nedbank-rekening doen:
Volksblad-Kersfonds, rekening-nommer 102-891-9980, takkode 117-134.
Stuur ’n bewys van betaling per e-pos aan annemarie@engo.co.za.





