Die Bram Fischer-gebou, hoofkantoor van die Mangaung-metro. Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

Talle inwones van die Mangaung-metro sit hande in die hare oor munisipale rekeninge wat onakkuraat is, dienste wat afgesny word en stadige of geen reaksie van amptenare.

Dirk Kotze, DA-raadslid, sê die DA in die metro het nou gevra dat ‘n volledige forensiese oudit godoen word na die metro en Centlec se rekening-stelsels.

Die DA gaan ook die ouditeur-generaal (OG) oor die versoek inlig.

Kotzé sê dit kom ná die bevindinge van die OG voor die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (SCOPA) wat talle van die metro se geldelike uitdagings uitgelig het.

“Die metro het slegs 45% van sy basiese diensleweringsteikens bereik, maar 111% van sy begroting aan daardie dienste bestee,” sê Kotzé.

In die verslag is uitgewys dat

R1,34 miljard bestee is in ongemagtigde uitgawes en ‘n bykomnede

R277 miljoen in onregmatigde uitgawes vir die 2023-’24 geldjaar.

Die DA versoek dat met die oudit ondersoek gedoen word na alle residensiële, kommersiële en instellings se munisipale rekening die afgelope vyf jaar.

Só ‘n ondersoek behoort ook moontlike onregmatighede, bedrog en swakhede in die stelsel uit te wys.

Hy sê hiermee saam kan ook die talle behoeftige huishoudings uitgewys word wat nie die gratis basiese elektrisiteit ontvang wat hulle regmatig toekom nie.

Tydens ‘n nuuskonferensie Vrydag 9 Mei het die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, gesê die onstabiliteit waarna die OG verwys het, is beter noudat senior bestuurders aangestel is.

“Daar was oor ‘n tydperk sewe waarnemende stadsbestuurders.

“Die makro-struktuur is nou in plek en ons is nou in die proses om ook mense op middelbestuursvlak in veral die ingenieursafdeling aan te stel,” het hy Vrydag gesê.

“Die metro werk hard om die onreëlmatighede wat deur die OG uitgewys is, reg te stel – veral wat betref dienslewering, oortyd en bestuur van finansies.”

Hy het gesê een van die maatreëls wat nou getref word om dienslewering in die metro te

bevorder, is ‘n skofstelsel.

“Die hooffokus van dienslewering is die stabilisering van water, sanitasie en paaie.”

Nthatisi het gesê mense moet onthou dat die bevindinge van de OG terugdateer na die tydperk 2022-’23 en 2023-’24, en nie die huidige termyn nie.

Braam Voster van die VF Plus, sê egter die onstabiliteit sal voortduur.

“Dit is waar dat die administrasie nou afdelingshoofde aangestel het, maar daar kort nog baie werk aan die mikrostruktuur,” sê hy.

Voster het Vrydag in die metro se spesiale raadsvergadering oor die aanpassingsbegroting verwys na die deel van die voorwaardelike toelae deur nasionale tesourie wat weerhou word omdat die metro dit die vorige geldjaar nie bestee het nie.

“Die nasionale tesourie ken finansiering vir spesifieke projekte toe. Omdat die metro so lank neem om projekte af te handel, kom daar ook min nuwe projekte op die tafel nie.

“Die enigste mense wat daaronder ly, is die inwoners van die metro.”

Voster sê in die aanpassingsbegroting is die voorwaardelike toelae verminder met R235 miljoen tot R906 miljard in hierdie geldjaar.

“Die metro kry hierdie toelae op ‘n silwer skinkbord om inwoners se

lewensgehalte te verbeter met projekte. Hierdie is geld van belastingbetalers wat inwoners toekom.”

You need to be Logged In to leave a comment.