Sunette Swanepoel

Sunette Swanepoel
’n Bloemfonteinse fotograaf ly aan erge skok nadat sy en twee meisies Saterdag by die Sand du Plessis-teater se stoep aangeval en beroof is.

Sunette Swanepoel het Maandag ’n klag by die Pellissier-polisiekantoor gelê nadat agt mans hulle Saterdag aangeval het.

Sunette se kamera en lens van ongeveer R11 000 en een van die meisies se iPhone is tydens die rooftog kort na 17:30 geroof en die agt aanvallers het in die Bloemspruit gespring en in die rigting van die taxi-staanplekke gevlug.

Sunette en twee modelle was op die stoep voor die teater toe Sunette ’n groep mans na hulle sien aangestap kom.

“Ek het my kamera soos gewoonlik om my nek gehad en het my rug op die mans gedraai sodat hulle nie my kamera sien nie. Toe hulle teen die trappe opstap, het ek begin bid,” sê sy oor dié nagmerrie-ondervinding.

Sy sê die mans het net eers dreigend by hulle gestaan. “Toe ek wou weghardloop, het hulle die kamera van my nek probeer afruk.”

Die mans het ook ’n mes teen een meisie se bors gedruk, maar sy het niks by haar gehad nie. Een het ’n mes teen die ander se heup en keel gehou en haar handsak gegryp.

Een het Sunette geruk en gestamp sodat sy teen ’n pilaar geval en op die grond beland het. “ ’n Man het ’n mes teen my keel gehou. Die volgende oomblik sê een van hulle ‘cut’.” Sy het gedink hulle gaan haar doodmaak.

Zain Griessel

Zain Griessel
Die mans het toe die kamera se band gesny en een meisie se handsak gevlug.

Sunette se kêrel, Zain Griessel, het in die motor vir hulle gewag toe hy hul hulpkrete hoor.

Hy het uit die motor gespring en die vermeende rowers agternagesit, maar iemand het hom gewaarsku om nie agter die rowers in die spruit af te volg nie. Hy die een meisie se handsak gevind waar die rowers dit weggegooi het nadat hulle die iPhone daaruit gesteel het.

Sunette sê sy bly nagmerries oor die voorval kry. “Nadat ek my ervaring op sosiale media gedeel het, het baie ander mense gesê hulle is ook daar beroof. Daar was geen sekuriteitswagte in sig nie.”

Sy sê dit is ’n gewilde plek om foto’s te neem en veral matriekafskeidfoto’s.

Adri van Veijeren, senior bestuurder van Pacofs, sê mense wat by die teater foto’s wil neem, moet ’n bespreking daarvoor maak. “As ’n fotograaf bespreek en betaal het, sal daar sekuriteit wees.”

Sy sê daar is bedags wanneer Pacofs se kantoor by die teater oop is vir kaartjieverkope, ’n sekuriteitswag.

“Daar is vyf wagte wat die hele perseel moet patrolleer. As daar nie ’n bespreking was nie, sal hulle nie weet daar is mense op die gronde nie.”

Sy sê daar is ook sekuriteitswagte wanneer gesellighede by die teater aangebied word.
“Ons beplan om ’n heining om die teater op te rig om veiligheid daar te verbeter en beter toegangsbeheer toe te pas.”

* Die borsbeeld van Sand du Plessis is onlangs voor die teater uit die tuin gesteel en twee mans is vir dié diefstal in hegtenis geneem. Hulle het in die hof verskyn en is vrygelaat hangende die ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.