Hier is een van die inskrywings van Myndrie Engelbrecht vir die kompetisie.


Tyd raak min om die perfekte foto op Naval Hill te neem. Inskrywing vir die Vriende van Franklin se jaarlikse fotografiekompetisie sluit op 19 April.

Foto’s wat op Naval Hill en in die Franklin-natuur­reservaat op die koppie geneem is, kan ingeskryf word. Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin, sê daar kort nog inskrywings in die afdeling wat vanjaar bykomend geskep is.

“Ons vra mense om ’n prettige foto in te skryf wat hulle by die kameelperdkuns by die Reizis-plein-inkopiesentrum neem. Marius Jansen van Vuuren en Letshego Theodore Shago het einde verlede jaar baie moeite gedoen om die kunswerk in Torbetstraat, net buite die sentrum, te skep,” sê Grobbelaar.

Sy sê mense moet kreatiewe foto’s daar neem wat hulle vir die kompetisie kan inskryf.

“Daar is die afgelope tyd baie op die kameelperde gefokus, maar ’n groot verskeidenheid diere kan afgeneem word,” moedig sy amateurfotograwe aan.

Die samestelling van die afdelings vir 2021-’22 se kompetisie lyk effens anders as dié van die vorige kompetisie, waarvan die wenners op Bloemnuusse voorblad gepronk het. Net vier afdelings is oop, waarvan die laaste een nuut is:

  • afdeling 1 – Naval Hill-wild­ (voëls uitgesluit, maar volstruise ingesluit);
  • afdeling 2 – Naval Hill-voëllewe (volstruise uitgesluit);
  • afdeling 3 – landskap van Naval Hill, of die stad soos van Naval Hill gesien; en
  • afdeling 4 – foto by Reizis-plein se kameelperd-kuns.
  • Inskrywing kos R100 per foto, met ’n maksimum van drie foto’s per persoon, per afdeling. Inskryfgeld gaan aangewend word om die ekostelsel te bewaar en voeding vir die wild te koop. Vir ’n inskryfvorm, stuur ’n e-pos na friendsoffranklin.­bfn­@gmail.com of bel Grobbelaar by 083-542-6556. Die wenfoto’s sal in Bloemnuusgepubliseer word.

You need to be Logged In to leave a comment.