Foto’s gee blik op vryheid

Vryheidsdag op 27 April was die vertrekpunt van ’n oorsigfotografie-uitstalling, Freedom from . . . Freedom to . . . Freedom to be . . ., wat nou in die Oliewenhuis-kunsmuseum te sien is.


Vryheidsdag op 27 April was die vertrekpunt van ’n oorsigfotografie-uitstalling, Freedom from . . . Freedom to . . . Freedom to be . . ., wat nou in die Oliewenhuis-kunsmuseum te sien is.

Die kurator, Yolanda de Kock, het die fotografiese werke uit die permanente versameling van Oliewenhuis en ArtbankSA saamgestel.

Sy sê die uitstalling weerspieël geskiedkundige en hedendaagse oomblikke wat sommige van Suid-Afrika se mees gevierde fotograwe deur hul kameralense vasgevang het.

“Dit is egter belangrik om nie net die politieke vryheidsvegters te gedenk nie, maar ook die vreeslose fotograwe wat ’n uitstalling soos hierdie moontlik maak,” sê sy.

Die jong fotograwe gee uitdrukking aan vryheid van keuse en bevraagteken die gemeenskap. Die ouer fotograwe se werk verteenwoordig meestal historiese oomblikke wat tot hierdie vryheid gelei het.

De Kock sê besoekers sal merk dat verskillende afdelings visueel oorheers.

Dit sluit in fotografie as ’n manier om vryheid ten toon te stel; fotografie as ’n invloedryke tegniek om ’n onderwerp uit ’n verstrengelde verlede in ’n hedendaagse konteks te plaas; en as ’n kragtige manier van dokumentering van gebeure.

Die uitstalling sluit onder meer ontstellende beelde van oorlog in, wat veral te sien is in die werk van Cedric Nunn, Christo Doherty en Paul Emmanuel.

David Goldblatt, een van Suid-Afrika se bekendste fotograwe, het hoofsaaklik op mense en hul omstandighede gefokus. Hy het in ’n myngemeenskap van middelklas-Afrikaners grootgeword en hul waardes met sy kamera vasgevang lank voordat hy ’n sosiale bewustheid ontwikkel het.

’n Goeie voorbeeld van sy vroeë foto’s wat baie mense van die Afrikaanse gemeenskap die harnas ingejaag het, is Child with a Replica of a Zulu Hut, Voortrekker Monument, Pretoria, wat Goldblatt in 1963 geneem het.

Nunn weerspieël onder meer die kwessie van grondbesit deur foto’s te neem op plekke waar oorloë vroeg in die Suid-Afrikaanse geskiedenis plaasgevind het. Op dié manier verken hy die verlede en plaas dit in die huidige konteks van grondonteiening.

Ander belangrike fotograwe wie se werke in die uitstalling te sien is, is die Duits-gebore Jürgen Schadeberg, Ernest Cole en Peter Magubane, wie se foto’s die wêreld van die onverbiddelike werklikhede van apartheid laat kennis neem het.

’n Ikoniese foto wat die meeste mense sal onthou, is dié van Eugène Terre’Blanche van die Afrikaner-weerstandsbeweging (AWB) waar hy sukkel om sy enorme swart friesperd te beheer. Antonia Steyn het dié foto in 2007 geneem in ’n sessie waarvoor Terre’Blanche ’n afspraak met haar gemaak het.

Steyn het dié spesifieke foto van ’n “moeë en verslane Terre’Blanche” uit die reeks gehaal en dit aansienlik vergroot. Die boodskap wat die foto verkondig, is dié van die AWB-figuur wat oorweldig word deur ’n enorme swart mag wat hy gevrees het en waarteen hy hom sy lewe lank verset het.

Werke van Nomusa Musa Mtshali is verwyder van die politiek. Sy fokus op genderkwessies en bevraagteken “kulturele en religieuse gender- en rasseverwagtinge” wat, volgens haar, buitendien in geen van die boksies pas nie.

  • Die uitstalling kan nog tot 3 Julie besigtig word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.