Die seun van Franco Smith, oud-Springbok en afrigter van die Glasgow Warriors, is terug by die Cheetahs.
Dié 24-jarige senter met dieselfde naam as sy pa het uit Italië teruggekeer en is deur die Vrystaters gekontrakteer.
Franco jr. het Dinsdag sy eerste oefening saam met die Cheetahs gehad wat vir die komende Toyota-uitdaagstryde voorberei.
Hy het aan Grey Kollege gematrikuleer. Die veelsydige agterspeler het ná skool vir die Vrystaatse o. 21-span en die Griffons se o. 20-span gespeel voordat hy terug is na Benetton in Italië. Benetton het hom in 2022 aan Zebre geleen.
Hy het in Mei 2022 sy buiging in die Verenigde Rugbykampioen- skap (VRK) teen Cardiff in Wallis gemaak en was tot vanjaar nog by Zebre.
Smith is in Newport naby Cardiff in Wallis gebore toe sy pa destyds vir die Walliese klub gespeel het.
Die Cheetahs se eerste Toyota-uitdaagstryd is Woensdag teen die Western Force van Australië. Die Cheetahs speel volgende Sondag in hul tweede wedstryd teen die Griffons. Die eerste twee wedstryde sal as proewe dien vir die span wat die Opkomende Iere, besaai met VRK-spelers, op 9 Oktober pak.
Die Cheetahs sal voor hul eerste wedstryd in die Europese Uitdaagbeker-reeks (op 8 Desember teen die Franse klub Perpignan in Amsterdam) ’n oefenwedstryd einde November teen die Bulle op Loftus Versfeld speel.