Die diere-reddingorganisasie New Beginnings het onlangs ’n meevaller met ’n Franse geurtjie gekry.
Die nie-winsgewende La Libraire Solidaire is deur Noémie Luburiez-Lassere begin om Franse boeke in te samel en weer te verkoop. Die boekskenkings kom van Franse skole en ondernemings, asook Franssprekendes wat na hul land van oorsprong terugkeer.
Theresa Bender van Alliance Française Bloemfontein het die groep ontvang wat die afgelope tyd deur die land toer en die amper nuwe boeke teen minder as R50 stuk verkoop.
“Die doel van die verkoping is om boeke beskikbaar te stel wat andersins net in boekrakke sou bly lê,” verduidelik Bender.
Bloemfonteiners wat die boekverkoping misgeloop het, sal ’n geleentheid kry wanneer La Librairie Solidaire in Oktober weer by verskillende takke van Alliance Française aandoen.
Op die toer wat in Maart plaasgevind het, het Ryan Enslin saamgereis, wie se artikel oor die groep se wedervaringe oor die land heen in die Mei-uitgawe van die tydskrif Getawaygeplaas sal word.
“ ’n Gedeelte van die opbrengs uit die verkoop van die boeke word aan die plaaslike tak gegee om aan ’n welsynsorganisasie van hul keuse te skenk,” verduidelik Bender.
“Franse is baie lief vir troeteldiere en dit was vir ons ’n natuurlike keuse om die geld aan New Beginnings te skenk.”
- Alliance Française bied Franse klasse vir volwassenes en hoërskoolleerlinge aan. Beginnersklasse begin op 11 April.
Benewens die beginnersklasse, is daar klasse vir mense wat Frans vlot praat en dit graag wil oefen.
Rig navrae aan Bender by 082-874-8654.