Soos die gebruik is, lui die klok op Saterdag 9 Augustus om 09:00 om die opening van die Vrouedag Franse Mark aan te kondig.

Die hele familie word genooi om die mark te besoek en te drentel tussen die groot verskeidenheid binnenshuise stalletjies, asook die stalletjies buite en onderdak, by Villa Avianto in Quaggafontein.

‘n Bederf-prys staan gereed vir een vrou wat mooi aangetrek is en die mark Saterdag besoek. ‘n Vrouedag-geskenkpak met koopbewyse, juweliersware van die uitstallers en ander lekker verrassings gaan aan dié vrou.

Op die vorige Franse Mark is van links Savahan en Chanté Olivier en Inge Sander met Fiji (in Chanté) se arms. Honde is welkom by die Franse mark op Villa Avianto. Foto: Lientjie Mentz

Markgangers kan kosstalletjies besoek waar daar, bykomend tot die gewilde sjokolade-croissants, ook quiches, suurlemoen-sorbet, melkkos en gourmet-sop te koop sal wees.

Suretha van Heerden, stigter van die mark, sê daar is talle nuwe uitstallers op Saterdag se mark.

Dit sluit in stalletjies wat gedrukte tekstiele verkoop, asook boereseep, planthouers, gevriesde vrugte, kuns, geelvet-biltong, ingelegte olywe, honde-bederfies en selfs aarbeie en room.

Die kinder-speelruimte deur Bounce Villa gaan weer ‘n plek bied vir daardie lyfies vol energie.

Vermaaklikheidskunstenaars gaan deur die loop van die dag optree. Dit sluit in Werner Schmidt, wat gaste by die hek gaan verwelkom, Jani Niehaus en Oscar Louw, asook Petro Engelbrecht − wat gaste gaan vermaak met trekklavier-musiek.

Toegang kos R35, en die mark duur tot 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article