Marco Ferreira met ’n oondgebakte pizza op ’n vorige Franse Mark. Foto: Lientjie Mentz


Vroue wat op Vrouedag, 9 Augustus, die Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein besoek, gaan spesiaal voel.

Die mark op die vakansiedag is ’n bederfmark vir vroue van alle ouderdomme.

Die eerste 200 vroue wat die dag na die mark toe kom, gaan ’n spesiale geskenkpakkie ontvang.

Suretha van Heerden, organiseerder van die Franse Mark, sê daar is heelwat nuwe uitstallers wat saam met gereelde uitstallers hul produkte op die mark gaan hê.

“Villa Avianto is ’n veilige bestemming waar gesinne en vriendinne lekker saam kan kuier,” nooi sy.

“Die mark spog met warm kos, musiekoptredes en ’n verskeidenheid uitstallers.”

Besoekers aan die mark kan uit ’n groot verskeidenheid mooi dekor-artikels, asook klere, kies. Daar is bederfies vir elkeen en geskenke vir iemand spesiaals.

Van Heerden glo aan gehalte-produkte as dit kom by die keuse van uitstallers. Dit is een van die uitsonderlike eienskappe van dié gereelde markte. Bykomend daartoe is daar ook heelwat te eet en te dink en plek waar besoekers kan ontspan terwyl hulle eet en rustig kuier.

Besoekers kan hul troeteldiere saambring.

Toegang op 9 Augustus is goedkoper as gewoonlik: Besoekers betaal slegs R30. Die mark open om 09:00 en duur tot 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.