Maak reg vir kuier, lekker eet en ronddrentel op die Franse Mark Saterdag (05/02) by Villa Avianto in Kwaggafontein.
Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en organiseerder, bied al sedert 2008 gereeld die mark hier aan. Die goeie nuus is dat dié markte van Februarie af tot November maandeliks aangebied gaan word.
“Dit bied ’n lekker geleentheid vir uitstallers om gereeld hier hul ware aan te bied. Ons is opgewonde om die markte, wat voorheen kwartaalliks aangebied is, nou meer gereeld te hou,” sê Van Heerden.
“Die rustige atmosfeer beklemtoon die betekenis van Villa Avianto se naam as: huis van die hemel,” sê sy.
“Villa Avianto het amptelik in 2008 geopen. Hierdie besonderse plek is gebou met die uitsluitlike doel om die gemeenskap met spesiale en unieke kuiermarkte te dien.
“Dit bied ’n unieke Franse atmosfeer met formele tuine wat naatloos saamsmelt met die omliggende omgewing, waar mense kan wegkom uit die gejaagde lewe en die mooi van die lewe kan kom geniet.”
Die eerste Franse Mark is in Oktober 2008 aangebied, met agt uitstallers en 120 gaste.
Sedertdien het die mark ontwikkel in ’n feestelike Franse byeenkoms met die heerlikste kos en musiek.
Die aanbieding het uitgebrei van een mark per jaar in 2008 tot die huidige vooruitsig van ’n maandelikse mark met tussen 60 en 100 spesiaal gekeurde uitstallers. Dit word deesdae deur tussen 1 500 en 2 000 mense per geleentheid bygewoon.
Die mark word gekenmerk deur Franse vlae en Eiffeltorings wat oral te sien is, asook die reuk van vars gemaalde koffie en varsgebakte sjokolade-croissants wat markgangers hier verwelkom.
Van Heerden sê op die Franse Mark word juis op gehalteprodukte wat deur plaaslike én nasionale uitstallers en kunstenaars gemaak en ontwikkel word, gefokus.
“Handgemaakte produkte, skilderye, houtprodukte, vars kosse, kase, tuisgemaakte sepe, varsgebakte produkte, juweliersware, unieke klere- en dekorreekse is maar van die ware wat aangebied word deur uitstallers wat Saterdag hier gaan wees.”
Villa Avianto is ook baie opgewonde oor sy byeboerdery. Op die mark sal heuningkoek en vars heuning te koop wees.
Vars verwerkte produkte, soos basiliepesto, tamatiepesto en appelblatjang is van die ander Villa Avianto-produkte wat op eie bodem vervaardig word en op die mark aangebied word.
Besoekers kan ook daarna uitsien dat plaaslike vermaaklikheidskunstenaars met elke mark optree en ’n atmosfeer van geselligheid en rustige samesyn skep.
“Villa Avianto is opgewonde en dankbaar om aan te kondig dat Bloemnuus, wat ’n publikasie van Sentraal24 is, vir dié jaar die mediaborg van die Franse Mark sal wees,” sê Van Heerden.
“Dit is so ’n voorreg om saam met Bloemnuus te werk, en ek glo dat dit die eerste van net nog meer indrukwekkende hoogtes vir die Franse Mark is.”
“Kom geniet ’n Europese gevoel met lekker kos, musiek en ontwerpersklere in die hartjie van die pragtige Vrystaat.Die plaaslike vermaaklikheidskunstenaar vir die eerste mark is Ian Rautenbach. Hy gaan met klassieke, ontspanne agtergrondmusiek ’n heerlike atmosfeer op die mark verseker.
Die datums vir die maandelikse markte vir die res van die jaar is reeds bekend:
* 5 Maart – Franse herfsmark
* 2 April – Franse mark
* 7 Mei – Franse mark
* 4 Junie – Franse wintermark
* 2 Julie – Franse mark
* 6 Augustus – Franse mark
* 3 September – Franse mark
* 1 Oktober – Franse lentemark
* 5 November – Franse mark
Hou Villa Avianto se Facebook-blad @villa_avianto.com dop vir inligting oor ander spesiale geleenthede, of besoek villa-avianto.co.za