Die lente word Saterdag (02/09) op ’n feestelike wyse op die Franse Mark by Villa Avianto gevier.
Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto wat dié mark 15 jaar gelede op die hoewe in Kwaggafontein begin het, sê die mark het die afgelope jare gegroei en gedy.
Suretha sê haar liefde vir markte het ontstaan toe sy destyds allerlei ysterware soos strykysters gerestoureer het en op markte soos by die Westdene-mark en die antiekeware-mark op Onze Rust verkoop het.
“Nadat ek en Christo die hoewe gekoop het, het ek besluit om self ’n mark te begin. Ons het die eerste mark in 2008 aangebied met vier tente en agt stalletjies. Ds. Jacob Maree het die mark destyds met gebed geopen.”
Sy sê die mark is vir haar nog altyd ’n roeping van die Here. Villa Avianto beteken vir haar Huis van die Hemel: “Dit moet vir ons ’n voorsmakie gee van dit wat wag.”
Die Franse flair is danksy haar Hugenote-voorsate (Du Plessis) wat van die Franse streek Bourdeaux kom.
“As jy weet waar jou wortels is, is jou identiteit gevestig,” glo sy.
“Met die mark vier ek my Franse herkoms, maar bied vir almal ’n plekkie waar hulle kan kom ontspan en wegkom uit die gejaag. Dis ’n toevlugsoord vir ’n oggend. ’n Plek van mooi dinge, lekker kos en goeie wyn.”
Suretha sê wat haar opgewonde maak van die mark ná 15 jaar, is die talle jongmense wat deesdae op die mark hul kreatiewe produkte uitstal.
“Ek het nog nooit afgewyk van my visie om produkte van ’n hoë standaard op die mark te bied nie. Dit is ’n plek waar ons kultuur kan vier en gesinne oor geslagte heen kan saamkom om te ontspan en saam te kuier.”
Die mark begin Saterdag om 08:00 en duur tot 15:00. Toegang kos R30, R10 vir kinders van gr. 1 tot gr. 7 en dit is gratis vir kinders jonger as 6 jaar.
Bloemnuus
is die mediaborg van die Franse Mark.