Franse Mark vier Kersfees

Bring die hele familie en stap Saterdag kuier-kuier deur die Franse Kersmark by Villa Avianto in Kwaggafontein.


Bring die hele familie en stap Saterdag kuier-kuier deur die Franse Kersmark by Villa Avianto in Kwaggafontein.

Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en organiseerder van die mark, sê die fokus op vanjaar se Kersmark is vrede. “Ons nooi almal om wit aan te trek en heeldag saam te kuier.”

Sy sê die mark begin om 10:00 en sal tot 20:00 oop bly sodat markgangers langer kan bly en saamkuier.

“Daar is heelwat nuwe uitstallers op Desember se mark. Ons glo om aan markgangers produkte van ’n hoë standaard te bied, perfek daarvoor om jouself of jou geliefdes te bederf.”

Benewens die Kersgeskenke wat hier te koop is, soos Lisa Rothmann se handgemaakte kantknoopwerk, is daar ook badkamerbenodighede, dekoritems en unieke klere.

Daar is ook heerlike gebak, peuselhappies en etes vir wanneer die hongerpyne begin knaag.

’n Hele paar Bloemfonteinse kunstenaars gaan deur die loop van die dag optree om die klank te voeg by die feestelike mark.

Petro Engelbrecht sal van 08:00 tot 09:00 met haar trekklavier die mark opvrolik met gepaste musiek.

Daarna volg die Bloemfonteinse marimbas met ritmiese klanke van 09:00 tot 10:00.

Rosita Rhode tree om 11:00 by die tent op en sing Europese liedere.

Ian Rautenbach tree van 13:00 tot 14:00 op met klassieke Kerstreffers en Jani Niehaus tree van 14:00 tot 15:00 in die kapel op met romantiese Kersmusiek.

Die program sal tot 20:00 herhaal word.

Van Heerden sê Villa Avianto gaan getooi word in groen- wit- en goue liggies om ’n klassieke ouwêreldse Kerstema te skep.

“Kom geniet die veilige, rustige atmosfeer en ondersteun die uitstallers wat hul produkte met soveel toewyding maak.”

Toegang tot die mark is R30, kinders van gr. 1 tot gr. 7 betaal R10 en toegang vir kinders jonger as ses jaar is gratis.

Skakel 083-329-4872 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.