’n Verteenwoordiger van die Franse kulturele ataché in Suid-Afrika het Saterdag 12 Augustus die 70ste viering van die Bloemfonteinse kantoor van Alliance Française in die stad by Memories4ever gevier.Foto: Verskaf


Die sewentigste bestaansjaar van die Bloemfontein Alliance Française is Saterdag 12 Augustus met ’n geselligheid vir lede en studente by Memories4ever gevier.

’n Verteenwoordiger van die kulturele attaché van die Franse Ambassade, Audrey Delattre, het ook die geselligheid bygewoon. Delattre koördineer die Alliance Française-takke in Suider-Afrika.

Die Alliance Française is in 1883 in Parys deur ’n groep vooraanstaande en invloedryke Franse burgers, onder meer Louis Pasteur (chemikus en mikrobioloog) en Jules Verne (skrywer) gestig.

Die doel van die Alliance is om die Franse taal en kultuur wêreldwyd te bevorder. Die hoofkwartier is in Parys en daar is meer as 1 000 takke wêreldwyd wat in elke land deur die Franse kulturele attaché verteenwoordig word.

Die Bloemfontein Alliance Française is in 1953 gestig en bied sedertdien ononderbroke Franse klasse aan. Die Alliance se kantore is in Dan Pienaarrylaan 133 gesetel waar aandklasse om Frans vir volwassenes van beginner-vlak tot gevorderde vlak aangebied word. Die Alliance bied ook middagklasse vir skoliere aan wat hulle toelaat om Frans tot op matriekvlak te studeer en die eksamen van die Onafhaklike Eksamenraad af te lê.

Verder is die Alliance ’n eksamensentrum waar Diplôme d’études en langue française (Delf-eksamens) deur mense wat Frans magtig is, op verskeie vlakke afgelê kan word. Delf is ’n taalvaardigheidskwalifikasie, bestuur deur die Franse departement van onderwys, en word wêreldwyd erken. Die Delf-sertifikaat kan deure in die internasionale arbeidsmark oopmaak en toelating by Franse opleidingsinstansies vergemaklik.

Navrae oor klasse kan gerig word aan Liza Oosthuizen by 081-010-2700 of per e-pos directrice.bloem@alliancefr.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.