Geniet ’n oggend van lekker eet, geskenke en inkopies op die Franse Wintermark op Saterdag 3 Junie by Villa Avianto net buite Bloemfontein.
’n Verskeidenheid uitstallers word op hierdie mark vroeg in die winter verwag.
Die mark begin om 08:00 en duur tot 15:00.
Van die eetgoed waarna markgangers kan uitsien, is gourmet soppe en brode, heerlike wyn, tradisioneel gebraaide hoender en varsgebak.
Vir die kinders is daar ’n outydse speelpark, met ’n glyplank, swaaie en hobbelperdjies.
Daar is ook ’n spesiale afgebakende sitgedeelte vir ouers, waar kleiner kinders in ’n veilige omgewing kan speel. ’n Springkasteel, sandput, swaaie en plaasdiere is ook hier vir die kinders se vermaak.
Vir die dors is daar mikrobier en jenewer, asook barista-koffie.
Uitstallers bied, onder meer, ’n verskeidenheid kosstalletjies, fyngebak, kase en wyn. Daar is ook uitstallers wat byvoorbeeld ontwerpersklere vir volwassenes, babaklere, juwele, haarbykomstighede en verskeie handgemaakte hout- en leerprodukte ten toon stel.
Mooi dekor-artikels vir die huis kan ook op die mark gekoop word. Daar is ’n groot verskeidenheid handgemaakte seep, serpe, rome, kerse en vele meer – voorwaar ’n mark met gehalteprodukte en ’n heerlike atmosfeer.
Die bekende Bloemfonteinse musikant Petro Engelbrecht gaan gaste met trekklavier-musiek vermaak.
Die trekklavier waarop sy speel, het aan haar tannie Nellie Slabber behoort en kom uit die 1950s. Slabber het destyds met dié trekklavier die verhoog met Nico Carstens gedeel.
Toegang kos R30 vir volwassenes en R10 vir laerskoolkinders. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.
Vir meer inligting besoek villa-avianto.co.za of skakel 083-328-4872.