Blesbok-en-babapreifrikadelle. Foto: Eye Poetry Photography


Een van die jaar se hoogtepunte lê voor die deur met De Oude Kraal se jaarlikse WildsKOSfees wat op Saterdag 4 Junie aangebied word.

Besoekers sal oudergewoonte kan smul aan heerlike wildsvleis, asook lamsvleis, hoender, bees- en varkvleis.

Van die topwyne in die land sal op die fees geproe en gekoop kan word.

Net soos verlede jaar sal daar ook spesiaal plek daarvoor wees dat wyn en proe-happies saam bedien word – ’n ware fees vir fynproewers.

Die sanger Herman Kleinhans gaan vanjaar op die fees optree om ’n lekker atmosfeer te skep terwyl gaste so proe-proe kuier.

Kaartjies vir die fees kos R550 – en die BBP-kaartjies wat die gourmet-saal se proe-happies en wyn insluit, kos R950.

Bespreek by 051-564-0733 of stuur ’n e-pos na info@oudekraal.com.

Net om lesers lekker lus te maak vir die heerlike geregte wat daar geniet sal kan word, is hier ’n resep vir blesbokfrikadelle spesiaal saamgestel deur De Oude Kraal Country Estate en Spa.

Blesbok-en-babapreifrikkadelle

Bestanddele:

1 kg blesbokmaalvleis

1 ui, fyngekap

50 g botter

1 teelepel groentespeserye

4 snye witbrood, saggemaak met melk

4 eiers

vars koljanderblare of pietersielie, gekap

Maak die frikadelle só:

Braai die uie in die botter en groentespeserye.

Meng alles goed saam en vorm frikadelballetjies.

Braai in ’n braaipan met olyfolie tot liggies gaar.

Pak die bodem van ’n oondvaste bak toe met babapreie.

Pak die frikadelballetjies bo-op.

Maak ’n sous van:

1 liter room

tiemie

100 ml hoenderaftreksel

swartpeper

Maak nou so:

Gooi die sous bo-oor die frikkadelle.

Sprinkel fyngekapte groen soetrissie bo-op.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Maak die frikadelle toe met tinfoelie en bak in oond tot gaar.

Bedien met parmesaanskywe en ciabatta-broodcroutons.

You need to be Logged In to leave a comment.