Floris Kotzé by die Pierneef-skildery wat verlede week vir R1,2 miljoen verkoop is.Foto: Mlungisi Louw


Die Kotzé-kunsgalery, wat al 17 jaar in die stad bestaan, het verlede week ’n eie rekordprys met die verkoop van ’n Pierneef-skildery behaal. Die skildery is vir R1,2 miljoen aan ’n inwoner van die stad verkoop.

Floris Kotzé, eienaar van die Kotzé-galery in Dan Pienaar, sê die erfgenaam van die skildery woon in Middelburg in Mpumalanga en het kontak met hom gemaak nadat hy deur ’n anonieme persoon verwys is.

Sy het daarop aangedring dat hy die werk fisies by haar kom haal, al het hy versekering teen transito-diefstal. Hy het hom nietemin voorgeneem om die kunswerk en die verkoop daarvan met groot ontsag en respek te hanteer.

“Terwyl ek soontoe gery het, het ek gedink hoeveel van die land se topgalerye sy eerder kon gekontak het. Maar hulle verkies iemand wat hulle nie ken nie in Bloemfontein.”

Volgens Kotzé is die hele ervaring met die Pierneef ’n wonderwerk.

Kort nadat ’n familielid van die eienaar in November ’n gesprek met hom gehad het en foto’s van die Pierneef aangestuur het, het ’n jare lange kliënt van hom iets by die galery laat raam en toevallig gevra of hy nie ’n Pierneef beskikbaar het nie.

“Daar begin die onderhandelings en dit verg toe baie gesprekke met die eienaar self, want sy ken my nie.”

Hy sê hy het beplan om net die skildery op te laai en huis toe te ry, maar hy het toe vir amper twee uur om ’n tafel met die eienaar en haar man gekuier.

“Toe ek weer op die pad is, stuur sy ’n stemnota en sê dat sy totale vrede oor die Pierneef het.”

Kotzé neem haar nie kwalik dat sy versigtig was nie.

“Daar is baie boewery in die mark met galery-eienaars wat die transaksies deurhak, maar dan nooit die geld aan die eienaars oorbetaal nie.”

Die nuwe eienaar van die Pierneef-skildery het dit Donderdag (03/03) kom haal. Daar het in totaal vier Bloemfonteiners in die ry gestaan vir die skildery.

Wilhelm van Rensburg, ’n kunskenner van Strauss & Co.-afslaers, sê hy is glad nie verbaas oor die prys van R1,2 miljoen nie.

“Hierdie een is ’n baie tipiese en ikoniese werk. Dis ’n trofee-werk waarvan almal sal hou. Almal sal dit dadelik herken in ’n huis en dit is wat mense wil hê.”

Die naasgewildste Pierneefs, sê hy, is dié van die dramatiese bergreekse.

“Ook die tonele uit die ou Suidwes-Afrika bereik hoë pryse, want dit is skaars.”

Van Pierneef se groter werke (90 cm x 120 cm) is al vir R18 miljoen verkoop en gemiddeld verkoop Strauss & Co. Pierneef-skilderye van R8 miljoen tot R12 miljoen.

“Deesdae vind ons ook Pierneef word ontdek deur internasionale kunsliefhebbers uit lande soos China en Duitsland, so Suid-Afrikaners moet maar spring as hulle ’n goeie Pierneef wil hê.”

You need to be Logged In to leave a comment.