Gat in die pad toe die brug na buurmanskap

Soos dit maar ons instelling is, loop ek en my hond ’n rukkie gelede deur die buurt.


Soos dit maar ons instelling is, loop ek en my hond ’n rukkie gelede deur die buurt.

Sy weet al dis tyd vir ons namiddagwandeling sodra ek die rekenaar afskakel.

Drie jaar gelede het ek na Langenhovenpark verhuis en hierdie spesiale buurt het sedertdien ons nuwe tuiste geword.

Daardie middag loop ons verby ’n groep van vyf of ses middeljarige Afrikaanssprekende mans, nie ver van waar ek bly nie. Die manne is in ernstige gesprek gewikkel terwyl hulle ’n spoelgat in die straat met teer opvul.

Daardie einste slaggat het my al baie ongerief veroorsaak, want ek ry gereeld met my motorfiets daarlangs.

Die toneel herinner my aan die grap van die gloeilamp en die blondines, jy weet: Hoeveel blondines vat dit om ’n gloeilamp in te skroef? Ek smoor ’n giggel in my binneste, groet vriendelik en stap verby. Hoeveel mans vat dit om ’n gat in die pad op te vul, dink ek. Ek besef die mans moet bure van aangrensende huise in die straat wees. Die gat het mooi netjies tussen die twee huise sy lêplek kom kry.

Soos die wandeling vorder, wonder ek hoeveel mense dit sal verg om hierdie land weer op sy voete te tel.

Met die terugstap merk ek dat die slaggat, nogal groterig in vandag se terme, heeltemal opgevul is.

Die inhoud is sorgvuldig ingestamp en gelykgemaak. ’n Eensame plastiek-tuinstoel behang met ’n geel reflekteerbaadjie hou oor die nat teer wag, terwyl ’n trotse gatvuller met ’n koffie in die hand sy handewerk bekyk.

Hy groet met ’n breë glimlag soos ons verbygaan.

Toe ek en my hondekind tuis by die deur instap, het ek my antwoord.

Dit gaan élke man, vrou en kind in hierdie land verg om die land te herstel en te bewaar.

My pastoor sê altyd: “Dit vat ’n man op ’n perd om die taak gedoen te kry.”

In hierdie geval dink ek die hele land sal moet opsaal en met ’n magtige gedruis aanmeld vir diens.

Ongelukkig tog dat ons bevolking nie bekendheid verwerf het is vir sy saamstaan-vermoë nie. Dit gaan mannemoed verg om die uitdagings saam-saam aan te durf.

Ek besef hoe een lastige gat in die teerpad ’n onverwagte brug tussen buurmanne geword het. Die uitdagings van Bloemfontein en die res van die land is die boumateriaal vir ’n nuwe manier van leef.

Een van kniebuig voor ’n almagtige God, een van moue oprol, die “eie ek” neerlê en eerder die oplossing wees as te murmureer.

Ek wil die dapper manne van Langenhovenpark hartlik bedank. Want hierdie soort nederige diensbaarheid is voorwaar iets wat luidkeels gevier moet word.

Ek gaan dit waag om te sê dat diegene wat onsself as voorbeeldige Christene beskou, die voorbeeld moet stel en so aanhou.

Of jy dit wil weet of nie, dis óns taak om mekaar in hierdie stad te bemoedig en motiveer.

Hoop brand hoog daar waar jy iemand anders se goeie dade kan raaksien, waardeer en dit oorvertel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.